Vers n dag - 4 Julie 2011
HUIDIGE TEMA: Ontdek God in die Psalms.
DAG 1: VIND JOU KRAG IN GOD
Deur Benescke Janse van Rensburg
Rory Mcilroy. Het jy hierdie naam al gehoor? As nie, kom ek stel jou voor aan die 22-jarige gholfspeler uit Ierland wat onlangs die Amerikaanse Ope Gholftoernooi met ’n rekord van 16 houe onder baansyfer gewen het.
Rory se vertoning tydens die ope het die gholfwêreld in vervoering gelaat en sportkommentators laat wonder of hy die nuwe “Tiger Woods” van die gholfarena gaan word.
Tog, blaai ’n paar bladsye terug in die koerante na April vanjaar en meteens is die nuusberigte van Rory anders. Op die laaste dag van die Amerikaanse Meesters-Gholftoernooi het Rory met 4 houe voorgeloop. Hy was die gunsteling om te wen – sy eerste groot gholftoernooi. Stres en spanning het egter die oorhand gekry. Hy het sy konsentrasie verloor en daardie dag die swakste rondte in die geskiedenis van die toernooi geëwenaar.
Soms gebeur dieselfde in ons lewens. Ons is op die punt om die grootste besigheidstransaksie van ons loopbane te beklink en dan stort alles in duie. Ons is oortuig ’n verhouding gaan in ’n huwelik eindig en dan word dit verbreek. Of ons voel een oomblik springlewendig en gesond en word die volgende met ’n gevreesde siekte gediagnoseer.
Luister egter weer na die bemoediging in Psalm 146:5: “Dit gaan goed met die mens wat sy hulp van die God van Jakob ontvang, die mens wie se hoop gevestig is op die Here, sy God.”
Rory se teleurstelling by die Meesters-Gholftoernooi was seker een van sy grootste laagtepunte in sy lewe. Tog, dit was al wat hy benodig het om hom voor te berei vir een van sy grootste hoogtepunte in sy lewe, die wen by die Amerikaanse Ope. Dieselfde geld vir ons lewens. Moet dus nie negatief raak as ’n teleurstelling oor jou pad kom nie. Hou jou oë op God. Stel jou verwagting in Hom, want dalk is hierdie teleurstelling waardeer jy tans gaan al wat nodig is om jou voor te berei vir die grootste deurbraak in die nabye toekoms! Sterkte.
Vader God, baie dankie dat ek my hoop in elke situasie in U kan plaas. Help my om nooit negatief te word as ek misluk nie, maar te vertrou dat U dit sal omskep in geleenthede vir my om te groei terwyl ek op die deurbrake in die toekoms wag. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.
NUUSBROKKIES:
-
ENGELSE WEERGAWE: Vers-’n-dag is also available in English. Please contact us at
This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it. if you want to change your subscription.
TERUGVOER: Stuur gerus terugvoer, opmerkings en voorstelle oor die dagstukkies of Bybelvrae wat jy het na:
HET JY ’N GETUIENIS? Stuur vir ons jou getuienis van waar God vir jou deurgekom het na
As jy belangstel om jou produk of diens op die Vers-’n-dag-dagstukkie te adverteer, kontak gerus