Vers n dag - 1 Julie 2011
VEELS GELUK VERS-’n-DAG!
Deur Benescke Janse van Rensburg
Nege. Dít is hoe oud Vers-’n-Dag vandag word. En met bykans 57,000 lesers regdeur die wêreld staan ons steeds in verwondering oor hoe en waar God besig is om die dagstukkies te gebruik om lewens te verander.
Kom ons kyk vir ’n oomblik na die getal nege in die Bybel: Jesus is op die negende uur aan die kruis gespyker. Hy het nege keer aan sy dissipels en apostels verskyn voor sy hemelvaart. Tien melaatse mans is genees, maar nege van hierdie mans het vergeet om Jesus vir hulle genesing te bedank. Daar is nege genadegawes wat die Heilige Gees gee (1 Korintiërs 12:4-11) en daar is ook nege vrugte van die Heilige Gees, naamlik liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing (Galasiërs 5:22).
Verjaarsdae bied aan ons die geleentheid om terug te dink oor ’n jaar se hoogtepunte, asook die uitdagings wat ons in die gesig moes staar. Hoewel hierdie refleksie soms pynlik kan wees, herinner dit ons telkens aan God se oneindige liefde vir ons elkeen. Só word ons geloof versterk sodat ons God in die toekoms makliker vir deurbrake kan vertrou.
Sit jy dalk tans met ’n krisis in jou lewe terwyl jy wonder of God vir jou gaan deurkom? Luister dan weer na die woorde in Romeine 8:31; 38-39: “God is vír ons, wie kan dan teen ons wees? . . . Geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here.”
My verjaarsdagwense aan elkeen vandag is dat jy nuut sal besef dat Jesus ook vir jou sonde op die negende uur aan die kruis gespyker is. Mag jy nooit soos die nege melaatses vergeet om Jesus te bedank vir die deurbrake in jou lewe nie. En mag jy sy Heilige Gees se teenwoordigheid in jou lewe ervaar terwyl jy streef daarna om ’n lewe te lei wat geken word deur die vrugte van die Heilige Gees.
Vader God, dankie dat ek kan weet dat U in beheer bly van die hoogtepunte en ook die hartseer tye in my lewe. Help my asseblief om U te alle tye te loof en te prys met die wete dat my deurbraak op die regte tyd sal kom. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.
Briefie van die skrywer: Dit is vir my baie lekker om terug te wees. Vir die wat dalk intussen aangesluit het, baie welkom en aangename kennis. Ons begin Maandag met ’n splinternuwe reeks, Ontdek God in die Psalms.
Hoop elkeen van julle het ’n wonderlike naweek!
Groetnis, Benescke
**Benescke Janse van Rensburg is ’n radio-omroeper en skrywer vir verskeie inspirasie en geestelike tydskrifte.
NUUSBROKKIES:
- ENGELSE WEERGAWE: Vers-’n-dag is also available in English. Please contact us at
This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it. if you want to change your subscription.
TERUGVOER: Stuur gerus terugvoer, opmerkings en voorstelle oor die dagstukkies of Bybelvrae wat jy het na:
HET JY ’N GETUIENIS? Stuur vir ons jou getuienis van waar God vir jou deurgekom het na
As jy belangstel om jou produk of diens op die Vers-’n-dag-dagstukkie te adverteer, kontak gerus