Vers n dag - 30 Junie 2011
Wie sê jy is Hy?
Carina Francke
Skrifgedeelte:
Matteus 16:13-16
13 En toe Jesus in die streke van Cesaréa-Filíppi kom, vra Hy sy disspels en sê: Wie sê die mense dat Ek, die Seun van die mens is?
14 En hulle antwoord: Sommige Johannes die Doper, en sommige Elia, en ander Jeremia of een van die profete.
15 Hy sê vir hulle: Maar julle, wie sê julle is Ek?
16 En Simon Petrus antwoord en sê: U is die Christus, die seun van die lewende God.
Die Godsidentiteit van Jesus word in die 21ste eeu deur baie mense bevraagteken. Hulle antwoorde op wie Hy is, wissel van ’n historiese-goeie-profeet tot iemand wat mense met Sy uitsprake tot rebellie aangehits het.
Vir gelowige Christene is Hy die Seun van God, die Verlosser, die Saligmaker, die Geneesheer, die Woord, die Een in wie ewige lewe beskikbaar is. Kortom, Hy is die Beeld van die Onsienlike God, die Een in wie God met sy volle wese woon (Kol 1:15,19).
Soos in ons Skrifgedeelte is mense se antwoord op wie Jesus is, steeds dieselfde. As jy nie begryp wie Hy werklik is nie, is die antwoorde uiteenlopend en kom neer op net-nog-iemand-bekend. Soos met die belydenis van Petrus namens die dissipels, is dit slegs ’n openbaring van die Vader self, wat jou kan laat sê: “U is die Christus, die seun van die lewende God.”
Wanneer jy jou werk verloor, onder finansiële druk gebuk gaan, verhoudingsprobleme het, oor jou geloof gespot en vervolg word, of siek is – wie is Jesus vir jou? Net die Seun van die mens wat aarde toe gekom het om vir jou die lewe gemakliker te maak? Om jou pyn te verlig? Om as stoorkamer in elke behoefte-gebed van jou te voorsien? As dit die geval is, het Hy nog nie vir jou die Christus (die Gesalfde), die Seun van die lewende God geword nie.
Jy sien, Jesus het wel aarde toe gekom om ook in bogenoemde behoeftes te voorsien, maar die hoofrede vir Sy aarde-toe-kom was om sondaars te red en hulle gebroke verhouding met die Vader te herstel. As jy en ek erns met hierdie verhouding meen en Hom liefhet met ons hele hart, siel, verstand en al ons krag, dan word voorsiening, genesing en die hê-goed in ons lewe in elk geval deur God voorsien.....want Hy weet wat ons nodig het.
As jy weer gevra word wie Jesus vir jou is, sal jy sonder twyfel kan antwoord dat Hy die Gesalfde van God is wat van jou ’n kind van die Vader gemaak het en vir wie jy lief is?
Gebed: Here, U is die Gesalfde van God. Dankie dat deur my verbondenheid met U, ek aanspraak kan maak op al die seëninge van God, ons Vader. Amen.