Vers n dag - 29 Junie 2011
Aanneemlike woorde en gedagtes
Carina Francke
Skrifgedeelte:
Psalm 19:15
(NAV) Mag wat ek sê en wat ek dink tog vir U aanneemlik wees, Here, my Rots en my Verlosser.
(OAV) Laat die woorde van my mond en die oordenking van my hart welbehaaglik wees voor u aangesig, o Here, my rots en my verlosser.
In die eerste derde van die Psalm skryf Dawid oor hoe die hemel, asook die dag en nag, die mag en heerskappy van God tot aan die uithoeke van die aarde verkondig......sonder woorde of sonder spraak. In die tweede derde besing hy die volmaaktheid van die woord van die Here en wat dit vir die mens beteken – dit gee lewe, wysheid, blydskap, insig, waarsku, maar beloon ook diegene wat dit gehoorsaam.
In die laaste gedeelte vergelyk hy sy eie mensheid met die grootheid en kennis van God. Hy bevind die mens onvolmaak en geneig tot sonde, selfs moedswillige sondes. As hulle tog maar net nie onkundig bly oor wat die natuur (v2-4) en die woord (wet) oor God sê nie, kan hulle in ’n verhouding met Hom staan!
Maar dit vra gehoorsaamheid aan sy Woord, en as ons ongehoorsaam was, berou en belydenis: Spreek my vry van verborge sondes en bewaar my van moedswillige sondes (v13,14).
In die laaste vers bid hy tot God dat sy woorde en gedagtes vir Hom aanneemlik sal wees. Jy sien, hy onthou hoe die elemente van die natuur bloot deur wie hulle is, tot eer van God hulle plek in die kosmos vul. Geen woorde of klanke nie – hulle is net. Die mens daarenteen het ’n hart wat gedagtes bedink en ’n mond wat daardie gedagtes in woorde omsit en so openbaar wie hy werklik is. Natuurlik loop dit dikwels ook op aksies uit, maar word dit nie maar aangevuur deur dit wat ons bedink en sê nie?
Die Psalm wil vir ons sê dat die Woord as ’n wag oor ons denke en woorde kan optree want dit waarsku ons, maar gelukkig beloon dit ons ook as ons dit gehoorsaam (v12). Ons moet egter die Woord lees en ken om dié beloftes in ons lewens te laat realiseer.
Sou jy jou leefwyse verander het as jy geweet het dat elke gedagte en woord eers deur die Here onder die vergrootglas geplaas word?
Gebed: Hemelse Vader, ek wil elke dag my lewe begin met die wete dat U my gedagtes ken. Keur my woorde voordat dit by my mond uitgaan. Laat my liefde vir U my gedagtes en woorde rig. Amen.