Vers n dag - 28 Junie 2011
Die Woord... ‘n Padpredikant
Carina Francke
Skrifgedeelte:
Psalm 119: 9 (NAV)
Waarmee kan ’n jongmens sy lewe skoon hou? Deur hom te hou aan u woord!
2 Timoteus 3:16-17
Die hele Skrif is deur God geïnspireer en het groot waarde om in die waarheid te onderrig, dwaling te bestry, verkeerdhede reg te stel en ’n regte lewenswyse te kweek, sodat die man wat in diens van God staan, volkome voorberei en toegerus sal wees vir elke goeie werk.
In ’n postmoderne wêreld waar reg en verkeerd vir meeste mense grys gebiede geword het, is dit verblydend om duidelike riglyne te kry oor hoe ’n Christen gelowige se leefwyse behoort te wees. Wat dit so waardevol maak, is dat dit van ’n betroubare bron kom, naamlik die Skrif wat deur God geïnspireer is.
Die Woord van God leer elke mens – jonk en oud - hoe om ‘n skoon lewe te leef in ’n aardse lewe wat geken word aan onreinheid. Uit dit wat oor mense in die Bybel geskryf is – hulle suksesse, mislukkings, sondes, terugkeer tot die Here, asook die Here se gesindheid en optrede teenoor hulle – leer ons hoe ons behoort te leef of nie te leef nie. Vir elkeen wat dit ter harte neem, gee dit standvastigheid en bemoediging, sodat ons vol hoop (Rom 15:4) kan wees te midde van ’n lewe wat soms “Wanhoop!” skree.
In die woorde van die Timoteus verse: die Skrif het groot waarde om jou te leer wat waarheid is; dit wys die regte pad aan as jy gedwaal het, dit help jou om verkeerde dinge in jou lewe reg te stel en om op die regte manier te leef. En die uitkoms hiervan? Elkeen wat “die mens van God is” ((OAV) kan volkome toegerus en voorberei wees vir elke goeie werk.
Die Woord verander egter niemand se lewe sonder sy samewerking nie. Ons aandeel in hierdie saak is om te doen wat dit sê, om gehoorsaam daaraan te wees en te volhard om ons lewe te lei volgens die Woord. Hierin speel die Helige Gees natuurlik ’n uiters belangrike rol, want dit is hy wat oortuig van die waarheid in elke vers wat ons lees. Dit is ook Hy wat jou oortuig van die dinge in jou lewe wat in lyn met sy riglyne gebring moet word.
Gebed: Vader, dankie vir u Woord wat deur die Gees lewend gemaak word in my hart. Open my verstand en gee vir my insig om te verstaan wat ek lees sodat my lewe op die plekke waar ek beweeg, Woord-gedrewe sal wees en ander mense om my beïnvloed.