Vers n dag - 27 Junie 2011
’n Helper en Bewaarder
Carina Francke
Skrifgedeelte:
Hebreërs 13:5, 6 (NAV)
5 Hou julle lewe vry van van geldgierigheid; wees tevrede met wat julle het. God self het gesê: “Ek sal jou nooit begewe en jou nooit verlaat nie.”
6 Daarom kan ons met vertroue sê: Die Here is my Helper; ek ken geen vrees nie: wat kan ’n mens aan my doen?Psalm 121: 2 (OAV)
My hulp is van die Here wat hemel en aarde gemaak het.
Wie ken nie die gevoel van magteloosheid as daar dinge in jou lewe gebeur waaraan jy niks kan doen nie! Jou planne werk nie meer nie, mense wil nie help nie en jou omstandighede wil jou die berge laat invlug. Jy wil dalk soos Dawid in Psalm 121 uitroep: “Ek slaan my oë op na die berge: waar sal my hulp vandaan kom?” In vandag se Skrifgedeeltes staan drie sake uit: Moenie geld najaag nie, wees tevrede met wat jy het, en as gevaar dreig, soek jou hulp by die Here, want: “My hulp is van die Here wat hemel en aarde gemaak het.” God se belofte aan Josua in Josua 1 voeg nog iets by: as Hy jou ’n opdrag gee om iets te doen, hoef jy nie bang te wees nie, want Hy is jou Helper en sal jou nooit in die steek laat of alleen laat aansukkel nie.
Waarom die raad in Hebreërs?
- Geldgierigheid hou dikwels verband met ons sug na selfvoorsiening, die vrees dat ons nie genoeg vir die toekoms sal hê nie, of om kers vas te hou by ’n materialistiese samelewing. Gierigheid kan ook mense van hulle geloof laat afdwaal en op dié manier baie ellende vir hulleself op die hals haal (1 Timoteus 6:10).
- Vergenoegdheid kommunikeer jou dankbaarheid teenoor God en dit is ’n teenvoeter vir gierigheid.
- Enigeen van ons kan slagoffers van misdaad word. Om egter in vrees te leef vir wat dalk kan gebeur, ontneem jou van die lewe in oorvloed waarvan Jesus in Johannes 10:10 praat. Miskien moet jy liewer te midde van al die aanslae en vrese, jou vertroue soos die Psalmis in die Here plaas: Die Here is my Helper; ek ken geen vrees nie: wat kan ’n mens aan my doen?
Gebed: Here, ek erken dat U my Helper in elke situasie is. Dankie dat U my nooit sal begewe of verlaat nie.....want U is my God! Amen