Vers n dag - 22 Junie 2011
Eerste Liefde
Carina Francke
Skrifgedeelte:
Jeremia 2:2, 3
2 (OAV): Gaan en roep uit voor die ore van Jerusalem en sê: "So spreek die Here: Ek onthou die geneentheid van jou jeug, die liefde van jou bruidstyd, toe jy agter My aan geloop het in die woestyn, in 'n onbesaaide land."
3Israel was vir die Here 'n heiligheid, die eerstelinge van sy opbrings...
2 (NAV): Gaan roep hierdie woorde uit sodat elkeen in Jerusalem dit kan hoor. So sê die Here: Ek onthou nog hoe getrou jy aan My was in jou jeug; hoe lief jy My gehad toe jy my bruid geword het, toe jy My die woestyn in gevolg het, in ’n wêreld waar niks geplant word nie.
3Israel was toe aan die Here gewy soos die eerste vrugte van die oes...
Jeremia 3:22
"Kom terug, kinders wat afgedwaal het, Ek wil 'n einde maak aan julle afdwaling."
'n Mens se eerste liefde ontknoop mooi dinge in jou lewe wat spontaan uitborrel. Onselfsugtigheid, getrouheid, opregtheid, respek en 'n manmoedigheid om enigiets saam aan te pak, is onkeerbare uitvloei-dinge. Dit geld egter veral ook vir ons verhouding met die Here.
Jeremia bevestig hierdie uitvloei van liefde, maar pas dit toe op die mens se liefde vir God. Toe die liefde jonk was, was daar 'n geneentheid, 'n getrouheid teenoor die Here - die soort liefde wat 'n pasgetroude paartjie vir mekaar ervaar. Israel se liefde vir Hom was so intens en opreg, dat die hulle selfs gewillig was om in 'n woestyn, in 'n land waar niks geplant word nie, agter Hom aan te loop. Israel was soos die eerste vrugte van die oes aan die Here afgesonder.
Maar iets het gebeur dat dit nie meer dieselfde is van die volk se kant nie: hulle het weggedraai van God af en ander dinge begin lief kry.(v 5) Hulle het nie meer Sy hulp gevra, Hom erken as hulle geliefde nie en het Sy gesag verwerp (v6-8,20 NAV). Hulle wou Hom nie meer dien nie.
En tog is die Here se liefde so groot en onveranderlik dat Hy hulle weer 'n kans gee: "Kom terug, kinders wat afgedwaal het, Ek wil 'n einde maak aan julle afdwaling."
Al wat hulle moet doen om die verhouding te herstel, is om na Hom terug te keer, te erken dat hulle afgedwaal het en hulle liefde weer vir Hom aan te wakker.
Is dit nie ook maar wat gebeur met ons liefde vir ons egmaats nie? Ander dinge begin vir ons belangriker word, ons aanvaar mekaar as vanselfsprekend en ons sien nie kans om op 'n plek te wees wat "woestyn" genoem word nie. Van aanvaarding en uitoefening van gesag uit liefde, is daar byna geen sprake nie. En tog geld dieselfde beginsel vir herstel in menseverhoudinge: keer terug na jou jeugliefde (jou egmaat), maar laat jou eerste liefde - jou liefde vir God - die maatstaf wees.
Gebed: Vader, help my om die beeld van die liefde te onthou soos wat ek hierbo gelees het. Gee my die moed om terug te keer na U en my geliefdes as ek afgedwaal het. Amen.