Vers n dag - 15 Junie 2011
’n Kleipot met ‘n skat
Carina Francke
Skriflesing:
2 Korintiërs 4:6-7
6 God wat gesê het: “Laat daar lig skyn uit die duisternis†het ook in ons harte ’n lig laat skyn om ons te verlig met die kennis van die heerlikheid van God, wat van Jesus Christus uitstraal.
7Ons wat hierdie skat in ons het, is maar kleipotte wat maklik breek; die krag wat alles oortref, kom dus van God, nie van ons nie.â€
Wanneer die moderne mens iets baie kosbaar wil bewaar, sluit hy dit toe in ’n ontoeganklike staalkluis – weg van begerige oë en grypende hande. En tog vergelyk die skrywer die gelowige met ’n kleipot wat as bêreplek vir ’n skat gebruik word. En ons almal weet kleipotte verweer,  kry krapmerke en dit breek selfs.
In verse 8-11 verduidelik die skrywer waarom die mens maar net ’n erdekruik is: die lewe druk ons van alle kante af, ons het soms nie raad nie, word vervolg en neergegooi – als dinge wat verniel en beskadig. En tog kry hierdie dinge ons nie onder nie, want die krag wat van God af kom en alles oortref, stel ons in staat om ons koppe omhoog te hou.
Hierdie krag manifesteer vanuit ons binnekant, maar ons kan dit nie self genereer nie. Dit kom van Jesus Christus, die bron van lig wat in ons donker harte kom skyn het.
Hy kom verlig ons harte sodat ons kan verstaan dat Hy, net soos ons, vasgevang was in ’n breekbare mens-kleipot wat ook swaarkry moes verduur; trouens Hy was aan’t flarde geskeur. Juis daarom kan Hy met al ons swakhede en beproewinge medelye hê (Hebr 4:15). Hy het ook geleer dat God se krag Hom ondersteun en Hom uiteindelik uit die dood uit teruggebring het. En dit is daardie selfde krag wat in jou en my as gelowiges se lewens tot volle werking kom as ons swak is. (2 Kor 12:9)
As lig het Hy ook bewerkstellig dat ons deur ons verhouding met Hom, eerstehandse kennis kan opdoen van God se heerlikheid (sy majesteit). Anders gestel, dit is slegs deur, en in Sy lig dat ons kan leer wie God werklik is.
Miskien moet ons minder fokus op die uiterlike voorkoms van die kleipot en eerder toelaat dat Sy lig die dowwe plekke aan die binnekant verlig sodat Hy helderder daardeur kan skyn.
Gebed: Vader, dankie dat dit nie saak maak hoe broos, breekbaar of onaansienlik ek as ’n kleipot is nie. Ek hou ’n skat - die Lig in my wat al hoe duideliker gesien moet word! Amen.