Vers n dag - 14 Junie 2011
‘n Brief
Carina Francke
Skriflesing:
2 Korintiërs 3:1-3
1 Begin ons weer onsself aanprys? Of het ons miskien, soos party ander mense,
aanbevelingsbriewe aan julle of van julle nodig?
2 Julle is self ons aanbevelingsbrief, geskryf op ons harte, vir almal om te lees en te
verstaan.
3 Dit is tog duidelik dat julle ’n brief van Christus is, deur ons diens geskrywe, nie met
ink nie, maar met die Gees van die lewende God, nie op klip nie, maar op die harte van
mense.
’n Getuigskrif is woorde op papier wat die kwaliteite van ’n mens besing sodat die geloofwaardigheid van die persoon deur iemand anders wat hom of haar ken, bevestig kan word.
Dit word egter ’n risiko wanneer jy mense in hulle persoonlike hoedanigheid as jou aanbevelingsbrief voorlê, want húlle lewens is ‘n refleksie van jou insette in hulle lewens. Paulus is egter so seker dat hierdie mense wat hy vroeër bedien het en met wie hy in verhouding staan, ’n goeie getuigskrif vir sal wees, dat hy bereid is om sy eer op die spel te plaas. Hy weet dat die boodskap van Jesus Christus se reddende genade waarvan hy hulle vertel het, hulle lewens radikaal verander het en dat dÃt uiteindelik die goeie aanbevelingsbrief van hom sal wees.
Hy is egter nederig genoeg om te erken dat hulle eintlik ’n brief van Christus is, en hy maar net die skrywer. Selfs die ink is nie sy eie nie, dit is Gees van God wat op hulle lewens geskryf het.
Maar wat hom betref, het hulle ook in sy hart kom skryf - ’n aanbevelingsbrief wat deur almal gelees en verstaan kan word.
Ouers skryf op die vleesharte van hulle kinders en so dikwels lees ons die boodskap van onbetrokke en afwesige ouers. Egpare skryf briewe van ontrou, verwaarlosing en liefdeloosheid op mekaar se harte. Bejaarde ouers se harte lees ‘Vereensaam’ omdat kinders nie meer daarop kom skryf nie. Oor armes se harte lees ons “Hooploosâ€. Ander s’n lees “Enigiemand kan skryf.â€
Waar het als verkeerd begin loop? Dié dag toe die mens nie meer self ’n brief van Christus wou wees nie, nie meer die Heilige Gees as ink op sy lewe wou toelaat nie en self  besluit het wat en wat nie op sy lewe geskryf moet staan. Die dag toe hy ’n vleeshart vir ’n kliphart verruil het.
Pasop hoe jy skryf! Jou ink kan ’n vleeshart een van klip maak.
Gebed: Hemelse Vader, as my geskryf op mense se lewens nie ’n goeie aanbevelingsbrief is nie, help my om te verander asseblief. Amen.