Vers n dag - 13 Junie 2011
‘n Geur
Carina Francke
Skriflesing:
2 Korintiërs 2:14, 15 (NAV)
14 Maar aan God die dank! Hy voer ons atyd saam in sy triomftog omdat ons een is met
Christus. Deur ons versprei Hy die kennis van Christus oral soos ’n aangename geur.
15 Ons is die wierook wat deur Christus vir God gebrand word, waarvan die geur dié
bereik wat gered word, sowel as die wat verlore gaan.â€
Die triomftog was ’n oorwinningsparade vir die oorwinnende weermag en sy leier. Die verloorders is gevange geneem en was ook deel van hierdie optog. Albei groepe kon die geur ruik van die brandende wierook wat deel van die feesvieringe was. Die mense kon dus die oorwinningsnuus hoor, sien en ruik.
Paulus gebruik hierdie metafoor om aan gelowiges en verkondigers van die Goeie Nuus te kommunikeer dat ons saam met God op ’n triomftog marsjeer en ’n geur versprei wat deur almal geruik kan word. Sonder ons eenheid met Jesus Christus is nie een van hierdie twee dinge egter moontlik nie. Hierdie eenheid word slegs bewerkstellig as ons glo in Jesus en in dit wat Hy vir ons kom doen het.
Geure word verskillend deur mense ervaar. Vir sommige is die reuk van braaivleis ’n hongerprikkel, vir ander ’n hongerdemper. Op dieselfde wyse ervaar mense die reuk wat Christus deur ons versprei, ook verskillend: vir die wat die Goeie Nuus aanvaar, is die nuus van Jesus se oorwinning soos ’n geur wat lewe bring; vir diegene wat dit verwerp of uitlag, is dit ’n doodsreuk wat op die dood uitloop.
Wat ’n ongelooflike gedagte dat gewone gelowige mense soos ek en jy, gebruik kan word om die kennis van Christus te versprei deur mense daarvan te vertel, so te leef dat hulle dit kan sien en deur ons blote teenwoordigheid Sy geur te kan versprei. ’n Geur van lewe of van dood - afhangend  van die een wat dit ruik.
Daar is egter voorwaardes om so gebruik te word: die Woord moet in opregtheid verkondig word, in verbondenheid met Christus, in opdrag van God en in verantwoordelikheid aan God. (v17)
Gebed: Vader, dankie dat ek deel van die oorwinningstog is, maar ek vra dat in my deelname hieraan, U my altyd sal herinner dat Christus dit moontlik gemaak het en dat al die eer U toekom. Amen