Vers n dag - 10 Junie 2011
Ek’s my eie baas - ek kan doen wat ek wil
Carina Francke
Skriflesing:
1 Korintiërs 6:12 (OAV)
Alles is my geoorloof, maar nie alles is nuttig nie; alles is my geoorloof, maar ek sal my nie deur iets laat oorheers nie.
1 Korintiërs10:23 (NAV)
Alles is geoorloof. Ja, maar alles is nie heilsaam nie. Alles is geoorloof, sê hulle. Ja, maar alles is nie opbouend nie.
Mense neem dikwels radikale besluite omdat hulle meen niemand anders word daardeur geraak nie. Wat hulle egter uit die oog verloor, is dat enige besluit die besluitnemer direk raak.
Die mens is geskep met ’n eie, vry wil. Dit gee hom die vryheid om in elke area van sy lewe te leef en te doen soos hy wil. Wat hy egter uit die oog verloor, is dat wanneer die grense van ordentlikheid, eerbaarheid, medemenslikheid, woede, of wat ookal, oorgesteek word, dit ’n selfgemaakte tronk word. Jy sien, ware vryheid kan net binne grense bestaan.
Die skrywer van hierdie vers maak die stelling “alles is my geoorloof†na aanleiding van gelowige mense wat mekaar hof toe sleep, seksueel losbandig lewe en selfs van kos ’n kwessie maak. Hy ontken nie dat die mens kan doen wat hy wil nie, maar waarsku dat hierdie vryheid daartoe kan lei dat die orde omgeruil word: die dÃnge kan dalk uiteindelik jou baas word. Jy word dus die skepper van jou eie gevangenis!
Jy sien, nie alles wat ons doen is nuttig of heilsaam nie, inteendeel, sommige dinge is ’n vermorsing van kosbare energie, tyd, breinkrag en talente.
Nie alles stig of bou op nie. Dit veroorsaak krakies in ons waardes, beginsels, integriteit en verhoudinge.
Ander dinge verslaaf of oorheers ons. Wanneer hierdie punt bereik is, is daar geen sprake meer van vryheid, of van ‘ek is my eie baas’ nie. Net gehoorsaamheid aan die drange, verslawing en dinge wat my baas geword het.
Die Skrifgedeelte gee voorsorgmaatreëls vir hierdie potensiële geleidelike agteruitgang tot gevangenisskap as hy sê dat ons eintlik nie aan onsself behoort nie, maar aan die Een wat ons vir ’n baie duur prys gekoop het. Hy sê ook dat ons liggame die blyplek van die Heilige Gees geword het en dat dit die plek is waar ons God kan verheerlik. (6:19,20)
Gebed: Here, baie dankie dat ek besluite kan neem wat nuttig en opbouend vir my lewe is en wat my kan weerhou van dinge wat verslaaf. Help my om hierin te volhard. Amen.