Vers n dag - 2 Junie 2011
Hemelvaart: Totsiens en nie Vaarwel nie
Carina Francke
Skriflesing:
Luk 24: 50,51
50 Hy het Sy hande opgehef en hulle geseën
51 En terwyl Hy hulle seën, het Hy van hulle geskei en is in die hemel opgeneem.
Hand 1: 10,11
10 En toe hulle nog stip na die hemel kyk terwyl Hy weggaan, staan daar twee manne in
wit klere by hulle,
11 wat sê: Galilese manne, waarom staan julle en kyk na die hemel? Hierdie Jesus wat
van julle opgeneem is in die hemel, sal net so kom soos julle Hom na die hemel sien
wegvaar het.
Wanneer familie en vriende groet gaan dit gewoonlik gepaard met emosie, maar die wete dat daar ’n weersiens gaan wees, maak dit minder intens.
Jesus se werk op aarde was voltooi en die tyd het aangebreek dat Hy sy dissipels, wat intussen Sy vriende geword het, groet. Hy het voor Sy kruisiging reeds vir hulle gebid, maar vind dit nodig om in hierdie laaste oomblikke op aarde, Sy seën oor hulle uit te spreek. Terwyl Hy nog hiermee besig was,  vertrek Hy voor hulle oë in ’n wolk.
Soos ek en jy ook maar maak, het hulle hom stip agterna gekyk en dalk ook gewonder wanneer hulle Hom weer sal sien, al het Hy hulle vroeër tydens sy gesprekke verseker van sy wederkoms.
Twee wit manne in wit klere – engele – praat met hulle en bevestig dat Jesus op dieselfde manier sal terugkom as wat hy nou van hulle weggeneem is. Die Joodse gebruik was dat die teenwoordigheid van twee getuies by ’n gebeurtenis nodig was om die waarheid van ’n saak te bevestig (vgl Deut 17:6). Die engele se teenwoordigheid het hulle hoop dat hulle Jesus weer sal sien, net bevestig. Hierdie groet was net ’n totsiens, nie ’n vaarwel nie.
Ek en jy herdenk vandag die hemelvaart van Jesus. Vir sommige is dit maar net nog ’n gebeurtenis op die Christenkalender, maar vir baie ander is dit die bevestiging van Jesus se woorde: “Kyk, ek kom gou!â€(Openbaring 3:11). Hou hierdie verwagting lewend in jou hart, want dit gaan vir seker plaasvind!
Gebed: Dankie Here dat in U beplanning daar ’n dag gaan aanbreek waar ons, wat ook nou Jesus se dissipels en vriende is, hom op die wolke gaan sien terugkom en saam met Hom sal gaan. Amen.