Vers n dag - 3 Junie 2011
Integriteit:
Carina Francke
Skriflesing:
Daniël 6:5
“Die ministers en die goeweneurs-generaal het toe iets teen Daniël probeer kry oor die manier waarop hy die administrasie behartig het, maar hulle kon nie. Hulle kon ook geen onreëlmatigheid vind nie, want Daniël was betroubaar en was aan geen nalatigheid of onreëlmatigheid skuldig nie.â€
Ons leef in ’n tyd waar eerlikheid, betroubaarheid en noukeurigheid, kwaliteite is wat eerder die uitsondering as die reël is. Dit is daarom so verfrissend om te lees van iemand wat in ’n hoë regeringsposisie nie geswig het voor korrupsie nie, maar sy beroep in integriteit beoefen het.
Daniël het alle rede gehad om sy verlede as verskoning te gebruik indien hy die pad sou wou loop van selfverryking, selfbejammering of haat teenoor sy werkgewer. Hy was immers as jong seun uit sy vaderland en ouerhuis weggeneem om diens te doen in ’n ongelowige koning se paleis. Hy moes ’n vreemde taal aanleer om in hierdie vreemde omgewing te kan kommunikeer, en sy naam – die een ding wat jou aan jou identiteit herinner - is verander na Beltsasar. En tog kies hy om reeds as jong seun ’n lewe van integriteit te leef te midde van mense en omstandighede wat volksvreemd vir hom is.
Hierdie onkreukbare karakter en werkswyse van Daniël was die kern van sy menswees.  Vir hom het dit nie gegaan oor die posisie of die eer wat met sy werk gepaardgegaan het nie, maar om die Een wat hy aanbid en in Wie se hande sy lewe is, te behaag. Dit is dan ook geen wonder nie dat hy telkens God se hulp vra en Hom daarna die eer gee as hy drome verklaar, die betekenis van skrif teen ’n muur uitlê en van die leeus se doodsbyte gered word.
Waarom so ’n lewe van integriteit leef? Hy het besef dat sy werkgewer nie ’n aardse koning is nie, maar die Een wat geheime openbaar, wat kan red, wat mag het oor al die koninkryke op die aarde en dit gee aan wie Hy wil. En ja, wat selfs die onbelangrikste mens daaroor kan aanstel.
Die vraag aan jou en my is: Is ons leef- en werkswyse van so aard dat “Integriteit†daaroor geskryf staan? Of werk ons maar net om geld te maak en te vat wat ons kan kry?
Gebed: Vader, U is die Een wat alles van my weet; U is die Een wat my in staat stel om ’n beroep te beoefen en te leef. Help my om in my werk en in my persoonlike lewe so met integriteit te leef, dat as mense agteraf planne teen my beraam, hulle niks sal vind wat my inkrimineer nie. Amen.