Vers n dag - 26 Mei 2011
U sorg vir my.
Dirk Taljaard
Skriflesing:
Psalm 16:5 en 6
5 Here, U is my lewe, U sorg vir my. Wat ek ontvang, kom alles van U af. 6 ‘n Pragtige deel is vir my afgemeet, ja, wat ek ontvang het, is vir my mooi.
Wanneer ‘n baba gebore word, het hy of sy permanent sorg nodig. ‘n Baba is hulpeloos en kan niks vir hom- of haarself doen nie. Gelukkig wil ouers graag (omtrent) alles vir ‘n baba doen.
Namate die kind opgroei, kom daar ‘n stadium waar ‘self’ belangrik raak: self loop, self drink, self eet.... Dan voel ouers oorbodig, maar kyk tog met trots hoe dié produk van hulle sorg op eie bene begin staan.
Op ‘n stadium verwag ouers selfstandigheid van ‘n kind. Hy of sy kan tog nie vir altyd verwag dat dinge vir hulle gedoen word nie. Trouens, die grootmens-wêreld is ongenaakbaar en as jy nie na jouself kan omsien nie, is jy verlore.
Almal van ons begin in ons geestelike lewe as ‘baba’s’ en moet ook leer om te groei en sterk te word in die geloof. Ons kan ook nie vir altyd die geloof van ons ouers as kruk gebruik nie, maar moet self leer glo.
Die gevaar bestaan altyd dat ons te onafhanklik kan raak. Dat ons só selfversekerd raak, dat ons vergeet uit Wie se hand ons eintlik leef. Die Psalm sê: Here,.. U sorg vir my. Dit vra nogal 'n stuk volwassenheid om te erken dat 'n pragtige deel vir my afgemeet is. Dat ek versorg word en afhanklik bly. Ek het dit nie teweeggebring nie. Ek is nie die outeur van my eie lewe nie. Want as dit só was, sou ons ons moeg bekommer het oor môre en oormôre. Dan was ons verantwoordelik om te sorg dat alles in plek val.
Het Jesus ons nie juis hierteen gewaarsku nie? Wat bekommer julle julle oor môre? Môre bring genoeg bekommernisse van sy eie.
Geniet vandag as 'n gawe uit die Here se hand... want Hy sorg! Wees dankbaar dat jy vandag jou daaglikse brood sal kry.
Gebed:
Here, hou my afhanklik van U vir wat ek vandag nodig het. Maak my dankbaar vir alles wat ek het. Leer my weer om uit u hand te lewe.