Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Vers n dag - 25 Mei 2011

Ek voel veilig.

Dirk Taljaard

Skriflesing:

Psalm 16:2 en 9

2 Ek behoort aan U, daar is vir niks goeds nie, behalwe by U. 9 Daarom is ek bly en juig ek en voel ek my veilig.

Dis een van die diep-gewortelde behoeftes van 'n mens: om van geweet te wees, om raakgesien te word, om te behoort. Hoewel daar geswore alleenlopers is wat goed op hulle eie regkom, is die deursnee-mens eintlik maar 'n kudde-mens. Dis lekker om deel van 'n groep te wees: 'n familie, 'n gesin, 'n geloofsgemeenskap... Dis sleg wanneer jy uitgesluit word, geïgnoreer word, vergeet word, vermy word. Want 'n stuk geborgenheid en veiligheid gaan daarmee verlore.

Die Psalmdigter se belydenis is: Ek behoort aan U... Nie: Ek dink so, nie. Nie: Ek hoop so, nie. Maar ek weet dis 'n feit!

'n Bietjie voorbarig? Selfs aanmatigend? Nooit! Dis tog die boodskap van die Bybel dat God by mense betrokke raak juis om hulle sy kinders te maak (Jes. 43:10). Hy neem altyd die inisiatief. Noem maar die voorbeelde op: Adam, Abraham, Moses, Dawid, Paulus... Hy het hulle sy eiendom gemaak. En daarom behoort hulle aan Hom.

In die Nuwe Testament leer ons dat ons deur geloof die reg gekry het om kinders van God genoem te word (Joh. 1:12). Om deel te word van sy gesin, sy familie. Ons het een en dieselfde hemelse Vader, met al die voorregte daaraan verbonde:

• 'Daar is vir my niks goeds nie, behalwe by U': Niks anders maak vir my soveel saak nie. Ek het nie behoefte aan iets of self iemand anders om my lewe sinvol te maak nie. U is vir genoeg. U weet van my. U sien my raak.

• 'Daarom is ek bly en juig ek..': Dit maak 'n dankbaarheid en 'n opgewondenheid in my wakker. Iets wat ek nie kan onderdruk nie. Iets wat nie afhanklik is van hoe ek voel nie. Want ek weet...

• '...en voel ek my veilig': In 'n onseker wêreld is ek vir niks bang nie, want niks en niemand kan my regtig skade berokken nie. Ek kan fisies en materieel benadeel word, maar my verhouding met U kan nie verbreek word nie (Rom 8:31 vv.).

Hoe bevoorreg is jy as jy vandag saam met die digter kan bely: Here, ek behoort aan U.

Gebed:

Here, baie dankie vir die sekerheid en vastigheid wat my verhouding met U vir my gee. Help my om met blymoedigheid daaruit te leef elke dag.

Previous article: Vers n dag - 26 Mei 2011 Prev Next article: Vers n dag - 24 Mei 2011 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.