Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Vers n dag - 27 Mei 2011

Werk as instrument.

Dirk Taljaard

Skriflesing:

Psalm 90:16 en 17

16 Laat u werk vir ons duidelik word en u grootheid vir ons kinders. 17 Laat ons die goedheid van die Here ons God belewe: hou die werk van ons hande in stand..

Die Genesis-verhaal vertel dat God die skepping in ses dae voltooi het. Alles wat ons rondom ons sien, is die werk van sy hande. Sy vingerafdrukke is duidelik op elke onderdeeltjie van die skepping te sien. Gelukkig was sy werk nie daarmee afgehandel nie. Want van dag een af is Hy besig om alles te versorg en te onderhou.

• Hy bepaal die gang van die natuur, versier die veld en voorsien selfs in die behoeftes van die kleinste diertjies (Matt. 6:25-34).

• Hy sien om na almal: goed en sleg, regverdig en onregverdig.

• Hy bring nuwe lewe in mense se lewens deur hulle in 'n geloofsverhouding met Hom in te trek. Hy steek telkens sy hand uit na mense en begin soveel kere met hulle van vooraf.

Een van die wonderlike dinge is dat die Here die mens ook in diens stel om saam met Hom, en selfs namens Hom sy werk voort te sit. Daarom word ons soms medewerkers en rentmeesters genoem. Hierdie groot verantwoordelikheid stel hoë eise aan ons:

• Ons moet help toesien dat die skepping nie verniel en stelselmatig vernietig word nie.

• Ons moet die mense wat aan ons toevertrou is - ons families en gesinne veral - versorg na die beste van ons vermoë.

• Ons moet die beroepe wat ons beoefen sien as geleentheid om almal om ons se lewens te verryk, en nie net ter wille van ons eie voordeel nie.

• Ons moet alles wat ons het en bymekaar gemaak het, ook sien as middele waardeur die Here  se koninkryk uitgebrei word.

As ons vandag ons werk in hierdie gesindheid en met dié ingesteldheid gaan doen, kan ons met reg vra: Hou die werk van ons hande in stand. Laat dit 'n verskil maak aan die wêreld waarin ons leef en werk. Dan sal ons die goedheid van die Here belewe!

Gebed:

Hemelse Vader, leer my om vandag só besig te wees dat ek u versorgingswerk kan voortsit en en ook in ander se behoeftes kan help voorsien.

Previous article: Vers n dag - 30 Mei 2011 Prev Next article: Vers n dag - 26 Mei 2011 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.