Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Vers n dag - 12 Mei 2011

Plek vir nog een

Dirk Taljaard

Skriflesing

1 Tessalonisense 3:12

12 En mag die Here julle liefde vir mekaar en vir alle mense laat groei en oorvloedig maak, net soos ons liefde vir julle.

Liefde is 'n woord wat dwarsdeur die Bybel voorkom. Daar word van verskillende woorde gebruik gemaak om die onderskeie fasette daarvan te belig. Gewoonlik word die Bybelse liefde voorgehou as iets wat voorvloei uit God se liefde vir ons.

Die wêreld waarin ons leef, het sy eie definisie van liefde. Dit het meesal twee belangrike elemente:

• Dit gaan gepaard met, en is afhanklik van 'n emosie: hou ek van iemand? Is daar een of ander gevoel of aantrekkingskrag?

• Wat maak dit die moeite werd vir my? Watter wins kan ek daaruit behaal? Is dit vir my voordelig?

Die christelike liefde is nie gegrond op gevoelens nie. Dit vra 'n keuse. 'n Keuse om ander te aanvaar vir wie hulle is as beelddraers van God en ten spyte van verskille. Liefde kyk verby die uiterlike verskille en waardeer die innerlike ooreenkomste. Almal wat in die Here glo, moet mekaar liefhê op grond van hulle liefde vir God. En sy liefde is een van gee, nie vra nie; van dien, eerder as om gedien te word.

As gelowiges mekaar nie kan liefhê nie, hoe sal die wêreld ooit oortuig kan word van God se liefde? As ons dit nie ten toonstel nie, wie sal dan?

Liefde mag nooit eksklusief wees nie. Dit bly nooit opgesluit binne die eie klein kringetjie nie. Dit moet inklusief wees om alle mense - soveel moontlik - in te sluit. Die boodskap van God se liefde moet wyer en wyer uitkring.

Dis nogal 'n uitdaging: om liefde vir mede-gelowiges sigbaar en aanvoelbaar te maak. Om te bly gee, sonder om terug te verwag. Mag die liefde in jou hart vandag plek vind vir iemand wat dit nodig het...

Gebed:

Here, ek moet bely dat my liefde partykeer baie selektief is. Dat ek kies wie ek wil liefhê. Ek wil so graag, soos U, alle mense insluit.

Previous article: Vers n dag - 13 Mei 2011 Prev Next article: Vers n dag - 11 Mei 2011 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.