Vers n dag - 11 Mei 2011
Om voluit te lewe
Dirk Taljaard
Skriflesing
1 Tessalonisense 3: 8
8 Omdat julle vasstaan in die Here, leef ons nou weer werklik!
Ons hoor baie keer dat iemand sê: Sport is my lewe. Dit beteken in gewone Afrikaans dat sport vir daardie persoon só belangrik is dat sy lewe as't ware daarom draai. Dat dit groot hom of haar vreeslik opgewonde maak, en groot bevrediging bring.
Ander mense gaan deur diep waters, soveel só dat dit voel asof die laaste bietjie lug uit hulle longe gewurg word. Wanneer die situasie omkeer en verbeter, slaak hulle 'n sug van verligting en sê hulle: Nou kan ons weer lewe!
In die tyd van die Nuwe Testament het die evangelie baie maal aanstoot gegee. Sommige christene het swaar gekry en selfs fisies gely ter wille van hulle geloof. Baie moes 'n keuse maak - om aan te hou ly ter wille van Jesus Christus, of om die maklike pad te loop en hulle geloof af te sweer.
Paulus het dit goed geken. Hy het dit keer op keer aan sy eie lyf gevoel. Hier sê hy nou dat hy só een voel met die christene aan wie hy skryf, dat hy net so swaar kry as hulle. Gelukkig ontvang hy tyding dat die gelowiges vasstaan ten spyte van alles. En daarom kan hy weer asem skep - weer werklik lewe!
Ons in Suid-Afrika is baie bevoorreg wat betref die vryheid van geloof. Gelowiges hoef nie fisies te ly ter wille van hulle geloof nie. Dit is wel waar dat in sekere omgewings die onderwerp van godsdiens en geloof taboe is. Maar ongeag hierdie vryheid, weet ons dat baie nie meer so ernstig is oor hulle verhouding met die Here as voorheen nie. Geloof speel nie meer so 'n allesoorheersende rol in huishoudings en gesinne se lewens nie.
Is dit vir ons 'n bron van kommer? Of verklaar ons dit ook al te maklik as die tekens van die tye, of die gees van die post-modernisme?
Andersyds, is ons dankbaar genoeg vir die baie wat nog vasstaan by dit wat hulle geleer het en wat hulle vas glo? Ondersteun ons mekaar genoeg om die druk te kan weerstaan?
Ons het soveel geleenthede. Kom ons gryp dit aan om werklik te lewe!
Gebed:
Hemelse Vader, dankie dat ons in 'n land woon waar ons U vrylik kan dien en aanbid. Bewaar ons daarvan dat ons nie besef hoe bevoorreg ons is nie.