Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Vers n dag - 10 Mei 2011

'n Merkbare verskil

Dirk Taljaard

Skriflesing

1 Tessalonisense 2:19 en 20

19 Wie anders tog as julle is ons hoop en ons blydskap, die kroon op ons werk waarop ons trots sal wees wanneer ons met sy wederkoms voor die Here Jesus sal verskyn?

20 Júlle is immers ons trots en ons blydskap!

Waarvoor werk mens elke dag? Om watter rede sloof jy jouself af dag in en dag uit? Vir sommige gaan dit bloot om 'n bestaan te kan maak. Lewenskoste het só gestyg dat hulle alles moet insit net om kop bo water te hou. Ander weer maak bymekaar vir hulle oudag. Nog ander wil al die ekstras hê: kinders moet in die beste privaat skole wees, die huis moet in die regte area en prysklas wees, die motors moenie afsteek by die bure s'n nie..

Die regte nalatenskap motiveer baie mense. Hulle wil graag onthou word as mense wat 'n verskil gemaak het. En dit wat hulle bereik het of tot stand gebring het, staan as monumente en bly die onderwerp van bespreking selfs lank na hulle nie meer daar is nie.

Wat is jou dryfveer? Om jou verantwoordelikheid na te kom om van hierdie aarde 'n beter plek te maak? Om 'n merkbare verskil te bring in die lewens van elkeen met wie jy te doene kry?

Paulus het sy roeping uitgeleef as 'n geleentheid om die Here te dien. Deel daarvan was om ander op te bou in hulle geloofslewe. Daarom sê hy:

•  julle is ons hoop en ons blydskap. As hy na hulle kyk en sien hoe die genade van die Here hulle verander het, is dit sy grootste bron van blydskap. Dis lekker om te sien hoe mense gegroei het. En hy is dankbaar om deel te kon wees daarvan.

• ...die kroon op ons werk waarop ons trots sal wees..: sy beloning lê nie in wat mense van hom dink nie. Dit gaan nie oor die oe's en aa's van mense nie. Die toppunt is dat by Jesus se wederkoms sy werk 'bekroon' sal word. Dat hy sal kan hoor: Mooi so, goeie en getroue dienskneg..'

Mag jy vandag so werk en optree dat almal om jou en by jou positief beïnvloed sal word. Dat dit nie net sal gaan oor wat jy verdien nie, maar ook oor wat jy uitdeel.

Gebed:

Here, help my om vandag op só 'n manier te lewe, dat wanneer ek vanaand terugkyk, ek sal weet dat ek 'n impak gemaak het op iemand se lewe.

Previous article: Vers n dag - 11 Mei 2011 Prev Next article: Vers n dag - 9 Mei 2011 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.