Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Vers n dag - 9 Mei 2011

Soos 'n pa....

Dirk Taljaard

Skriflesing

1 Tessalonisense 2:11 en 12

11 Net so weet julle ook hoe ons elkeen van julle behandel het: soos ‘n pa sy kinders

12 het ons julle elkeen bemoedig en aangespoor en dit op die hart gedruk om tot eer van God te lewe, Hy wat julle roep om in sy koninkryk in te gaan en so aan sy heerlikheid deel te hê.

Daar word soms gesê dat mans net goed is vir een ding: om die troufoto vol te maak, want eintlik gaan dit net om die bruid. In baie gesinne is mans en pa’s ook maar net daar om ‘n prentjie te vul, terwyl die vrouens grootliks die opvoedingswerk en die geestelike versorging van die kinders moet waarneem.

Dit is ‘n baie ongesonde situasie. Een ouer hoef nie die volle las te dra, terwyl die ander een – om watter rede ookal - onbetrokke is nie.

Paulus druk die gemeente dit op die hart dat hy soos ‘n pa opgetree het vir die gelowiges. En dan noem hy ‘n paar dinge wat eie is aan só ‘n rol:

• ons het julle elkeen bemoedig: pa’s behoort nie witbroodjies te hê nie. Elke kind met sy of haar uniekheid moet waardeer word. En daarom die woord elkeen. Want kinders is individue in eie reg en kan nie in ‘n keurslyf ingedwing word nie. Hulle moet aangespoor word om hulleself te ontdek en te ontwikkel sodat hulle hulle volle potensiaal kan bereik.

• ...en aangespoor: die lewe is vol slaggate en struikelblokke wat jou moed kan breek. Mens het iemand nodig om net weer perspektief te kry, om aangepor te word. Om te wys dat vasbyt op die ou einde tog die moeite werd is.

• dit op die hart gedruk om tot eer van God te lewe: om maar net te oorleef en nie deur die lewe onder gesit te word nie, is nie die hoogste doel nie. Om tot eer van God te lewe, dit maak die lewe sinvol.

Soos in 'n gesin, is dit nodig dat ons die rol van 'n geestelike vader sal vervul teenoor medegelowiges: om aan te spoor dat mense hulle nis in die lewe sal ontdek; om te bemoedig, sodat elkeen die pas kan volhou; om te beklemtoon dat ons hoogste strewe moet wees om die Here te verheerlik.

Moenie net die prentjie probeer volmaak nie ! Maak 'n definitiewe verskil!

Gebed:

Here, gee my die volwassenheid in my geloof, dat ek vir ander meer kan beteken in hulle groei tot volwassenheid.

Previous article: Vers n dag - 10 Mei 2011 Prev Next article: Vers n dag - 6 Mei 2011 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.