Vers n dag - 13 Mei 2011
Onberispelike gedrag
Dirk Taljaard
Skriflesing
1 Tessalonisense 3:13
13 So sal Hy julle innerlik sterk maak dat julle onberispelik en heilig voor God ons Vader sal staan wanneer ons Here Jesus kom saam met al sy heilige engele.
Dit val soms vreemd op die oor wanneer daar na gewone mense verwys word as ‘heiliges’. Mens assosieer heiligheid met God. Want Hy is die Enigste sonder sonde. Ons noem mense soms skyn-heilig – hulle probeer voorgee wat hulle nie is nie en kruip dan agter maskers weg.
En tog is die opdrag in die Bybel duidelik: Wees heilig, want Ek is heilig. (1 Petrus 1:16). Dis die ideaal waarna elkeen van ons behoort te strewe, al sal dit eers realiseer by die wederkoms van Jesus Christus.
Een van die betekenis-moontlikhede van die word heilig is om anders te wees – anders in die sin dat ons nie saam met die stroom van die wêreld gaan nie. Dat ons ons nie laat meesleur deur die tydsgees nie. Dat ons nie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie (Romeine 12:2).
Die versoeking is om met ‘n voet elk in twee wêrelde te probeer leef. Om ons brood alkant gebotter te hê. Maar geloof vra jou alles. Mens kan die Here nie met verdeelde aandag en lojaliteite dien nie.
Die Here ken ons baie goed. Daarom belowe Paulus hier dat die Here ons innerlik sterk sal maak dat ons die pad van gehoorsaamheid aan Hom sal loop. Die woorde onberispelik en heilig beskryf dit mooi. Niemand kan ‘n vinger na jou wys om jou lewenswyse te kritiseer en geloof af te kraak nie. Niemand kan agter jou rug van jou praat en jou belaglik voorstel nie. Want daar is nie ‘n skeiding tussen wat jy sê en doen nie.
Ons het vandag die wonderlike geleentheid om deur ons lewens die wêreld om ons te oortuig dat dit die moeite werd is om te glo. Om in die voetspore van Jesus Christus te volg. En as mense dán sleg van ons praat, is dit omdat ons konsekwent gehoorsaam is en die prys daarvoor te betaal.
Ons weet mos dis nie ‘n gelyk-pad nie. Dis ‘n pad vol uitdagings. Maar dis deur en deur die moeite werd. Vir jou ook.
Gebed:
Heer, ek wil meer heilig wees.