Kies om 'n verskil te maak - 3 Oktober 2017
Louise Gevers
Soos God die Vader dit vooraf bestem het, het Hy julle uitverkies en deur die Gees afgesonder om aan Hom gehoorsaam te wees en besprinkel te word met die bloed van Jesus Christus. Mag daar vir julle genade en vrede in oorvloed wees! 1 Petrus 1:2
Hou jy nie ook daarvan om gekies te word vir 'n opdrag, om uitgesonder te word nie? Iemand het jou goeie kwaliteite raakgesien en jy het wat benodig word vir die opdrag. Jy kry die geleentheid om die uitdaging aan te gryp en jou godgegewe talente ten volle te benut.
Dit maak nie saak of ons jonk is en vir 'n span gekies word, of ouer en vir 'n werk gekies word nie, dit is 'n opwindende oomblik wat soms selfs jou asem wegslaan. Maar wanneer God die Een is wat kies, oortref dit alles want Hy kies vanuit 'n posisie van volkome kennis en gesag. Petrus het dit verstaan en Hy bid vir vrede en genade vir diegene wat God uitverkies het, diegene wat vreemdelinge in hierdie wêreld is, aangesien God se waardes van die van die wêreld verskil.
Ek hou daarvan om die gedeelte te lees waar Samuel Dawid as die nuwe koning kies om koning Saul op te volg. Elkeen van Isai se seuns wat na alle waarskynlikheid oor die regte eienskappe beskik het, is weggewys. Isai het nie eers vir Dawid as 'n moontlike keuse oorweeg nie. Die Here het wel. Hy het geweet dat Dawid die regte een was vir die posisie. Sy opdrag aan Samuel was: "Moenie na sy voorkoms of sy buitengewone lengte kyk nie, … Die Here kyk nie na dieselfde dinge as die mens nie. Die mens kyk na die uiterlike, maar die Here na die innerlike.” (1 Samuel 16:7) Toe Dawid voor hom verskyn het Samuel geweet dat hy die een is wat deur God gekies is.
En dit is waaroor ons teks vandag handel, om gekies te word om 'n verskil te maak. God ken reeds van voor die begin van tyd ons harte en weet Hy hoe ons gaan reageer. Die Een wat na die hart kyk vir daardie kwaliteite wat net Hy kan sien, het ons uitverkies en sal ons toerus om tydens ons lewens hier op aarde 'n verskil vir Hom te maak. Maar alles is deur sy genade alleen. As sondige mense kan ons nooit geskik vir die taak wees nie, maar wanneer die Heilige Gees ons bewus maak van ons sondes en ons dit teenoor Jesus bely, maak Hy ons aanvaarbaar vir God en verander Hy ons. Deur sy dood en opstanding red Hy ons. Voor dit gebeur, kan ons nie 'n verskil maak nie.
Waar staan jy?
Gebed: Vader, dankie dat U na my kyk netsoos ek is, en dat U my uitverkies het en my toerus om deur die kosbare bloed van u Seun, 'n verskil in hierdie wêreld te kan maak. Ek weet dit is deur u genade alleen. Help my om dit wat U aan my toevertrou het te gebruik tot u eer. In Jesus se Naam bid ek dit. Amen