Maak 'n verskil deur 'n lewende hoop - 4 Oktober 2017
Louise Gevers
"… In sy groot ontferming het Hy ons die nuwe lewe geskenk deur die opstanding van Jesus Christus uit die dood. Nou het ons 'n lewende hoop op die onverganklike, onbesmette en onverwelklike erfenis wat in die hemel ook vir julle in bewaring gehou word." 1 Petrus 1:3-4
Hoop is 'n dinamiese krag in elke mens. Dit is 'n sterk emosie wat ons almal affekteer. Oppervlakkig kan dit gesien word as 'n optimistiese verwagting wat verband hou met die weer, die verkeer, die voltooiing van 'n taak, of om 'n vriend vir koffie te ontmoet. Maar op 'n dieper vlak is dit 'n krag wat jou deur moeilike tye kan dra. Dit help jou om aan te gaan al skreeu almal "Gee op!"
Petrus verwys na "'n lewende hoop deur die opstanding van Jesus Christus uit die dood." Dit het te make met wie jou vader is. Jou aardse vader is een van die belangrikste mense in jou lewe en jy het baie ding van hom geërf, maar ongelukkig is hy sterflik en daarom is alles tydelik. Wat jy van hom geërf het sal nie vir altyd behoue bly nie en mag ook nie altyd vir jou geluk bring nie.
Maar wanneer God jou Vader is omdat deur Jesus se offer aan die kruis vir ons almal ook jou sonde vergewe is, verander jou status vir altyd en word jou lewe verander. Jou erfenis is nie langer iets tasbaar en beperk nie – dit is buitengewoon en is onverganklik onbesmet en onverwelklik. En dit word boonop vir jou in die hemel in bewaring gehou. Jou veranderde status gee vir jou die krag om 'n verskil in hierdie wêreld te maak en uit te reik na diegene wat nog nie hierdie lewende hoop het nie.
Mense benodig almal hierdie lewende hoop, mense het jou nodig om 'n verskil te maak. In Spreuke lees ons: "’n Uitgestelde hoop maak die hart siek; maar ’n wens wat uitkom, is ’n lewensboom." (Spreuke 13:12 1933/1953-vertaling) Wanneer iemand hoop verloor omdat daar nie in 'n sekere behoefte voorsien word nie, word hy siek en verloor sy blydskap, maar wanneer die behoefte beantwoord word, verander die persoon en word sterk.
Het jy al ooit die effek van hoop gesien op 'n paartjie wat huweliksprobleme het; of op 'n vrou wat sukkel om swanger te raak; of op 'n persoon wat wag op die uitslag van toetse wanneer die gevolg 'n lewensgevaarlike siekte is; of op die moeder wat te voet met haar kinders uit haar oorloggeteisterde land vlug; of op die man wat in die asdrom na kos soek? Ons moet 'n verskil maak.
Sal jy 'n verskil maak?
Gebed: Vader, maak my hart en verstand ontvanklik vir u stem sodat ek 'n verskil kan maak. Help my om hoop te deel met diegene wat 'n behoefte het aan die nuwe geboorte en aan die lewende hoop wat ons in Jesus Christus, ons Here ontvang. Amen.