Maak 'n verskil as 'n vreemdeling - 2 Oktober 2017
Louise Gevers
Van Petrus, 'n apostel van Jesus Christus. Aan die uitverkorenes van God, vreemdelinge in die wêreld, wat verspreid woon in die provinsies Pontus, Galasië, Kappadosië, Asië en Bitinië. 1 Petrus 1:1
Weet jy hoe dit voel om 'n vreemdeling te wees? Ek weet. Ek het onlang oorsee gereis en alhoewel dit 'n wonderlike ervaring was, het ek soms die vreemde maniere van doen verwarrend gevind en die gebrek aan die bekende was 'n uitdaging – ten spyte van die feit dat ek die taal kon praat!
Indien jy jou al ooit weg van jou tuisdorp of land bevind het, kan jy heel waarskynlik met my identifiseer. Jy sal ook weet hoe lekker dit is wanneer iemand in die vreemde vir jou glimlag of vir jou die pad aanwys of gasvry optree en dinge vir jou makliker maak. Jy ondervind dat God deur hulle vir jou omgee en dit laat jou goed voel.
Jesus Christus was 'n vreemdeling op hierdie aarde. "Hy wás in die wêreld – die wêreld het deur Hom tot stand gekom – en tog het die wêreld Hom nie erken nie." (Johannes 1:10) Hy het onselfsugtig na hierdie wêreld gekom, wetende dat baie mense Hom sou verwerp, en tog het Hy gekom om 'n verskil te maak. Hy het geweet dat sy huis in die hemel is en dat sy volgelinge eendag ook daar sal wees. Hy wil egter hê dat ons 'n verskil moet maak, en na ander moet uitreik. Indien ons ware volgelinge van Hom is, sal ons ook soms verwerping beleef en soos vreemdelinge behandel word – selfs al verlaat ons nooit ons tuisdorp nie.
Wanneer ons vreemdelinge op verskillende plekke en op verskillende tye ontmoet, dink ons selde daaraan dat hulle weerloos mag voel. Petrus het dit egter besef. Hy erken dat God se kinders nie net verspreid as vreemdelinge in die wêreld woon nie, maar soms selfs voel asof hulle nie op die bekende plekke hoort nie. As 'n apostel vir wie dit nie altyd maklik was nie en as 'n boodskapper vir die "uitverkorenes van God" probeer hy hulle aanmoedig om waar hulle hulle ook al mag bevind, 'n verskil te maak, en daarom skryf hy vir hulle 'n brief.
Petrus volg Jesus se voorbeeld. Sal jy ook waar jy ook al is op sy boodskap fokus om 'n verskil te maak, al is dit ook hoe gering?
Gebed: Vader, ek besef dat netsoos Jesus 'n vreemdeling in hierdie wêreld was, ek ook een is. Help my om u stem te hoor en deur Petrus se woorde bemoedig te word. Help my om ook 'n verskil te maak waar ek ook al is. Amen