Dag 20: God wag vir jou - 29 September 2017
Deur Benescke Janse van Rensburg
Vandag is Wêreldhartdag. Volgens die Suid-Afrikaanse Hart- en Beroertestigting is daar daagliks 225 mense in ons land wat weens hartsiektes sterf en elke uur kry tien mense ’n beroerte. Wat interessant is, is dat die oorgrote meerderheid van hierdie mense nie vooraf geweet het dat hulle hartprobleme het nie. Hulle word dus onkant betrap.
Hoe lyk jou geestelike lewe? Ons dink gereeld ons sal “eendag” ons saak met God regmaak of “later” meer tyd saam met Hom spandeer as jou lewe “rustiger” is. Die waarheid is dat vandag ons laaste dag op aarde mag wees. Is jy gereed om jou Skepper te ontmoet?
In Openbaring 3:20 sê God: “Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. As iemand my stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek by hom ingaan en saam met hom die feesmaal hou, en hy saam met My.” God se begeerte is om daagliks met jou te ontmoet. Hy wil deel wees van elke faset van ons lewens. Hy wil sy goedheid en liefde elke dag aan ons kom demonstreer.
Ek wil die reeks afsluit met die teksvers waarmee ek die reeks begin het in Jakobus 4:8: “Nader tot God en Hy sal tot julle nader.”
My wens is dat ons elkeen daagliks die Heilige Gees sal vra om ons te lei om God beter te leer ken en Hom raak te sien waar hy reg rondom ons besig is om te werk. In watter seisoen jy ook al van jou lewe is, mag jy nooit vergeet: Hy het jou oneindig lief. Sterkte.
Vader God, baie dankie vir U liefde en genade in my lewe. Lei my asseblief deur u Heilige Gees om U beter te leer ken. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.
Opdrag: Weet jy waar jy jou ewigheid gaan spandeer? As nie, bid gerus hierdie gebed – die belangrikste een in jou lewe:
- Vader God, ek begeer ’n verhouding met U en sekerheid waar ek my ewigheid sal spandeer. Ek glo dat u Seun, Jesus Christus vir my sonde aan die kruis gesterf het. Juis hierom vra ek nou dat U my sal vergewe en vryspreek van al my sonde sodat ek met selfvertroue en vrymoedigheid na U troon kan kom. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.
Terugvoer: Het jy van die reeks gehou? Gee terugvoer oor die reeks by