Dag 19: God wil jou alles wees - 28 September 2017
Deur Benescke Janse van Rensburg
In 1942 het minder as 8% van die bevolking met ses uur of minder slaap weggekom. Vandag is dit byna een uit elke twee. Dít wasdr. Matthew Walker, direkteur van die Center for Human Sleep Science aan die Universiteit van Kalifornië se bevinding in sy navorsing van vier en ’n half jaar vir sy boek, Why We Sleep. Sy gevolgtrekking was verder dat sou ons besef het hoe groot die verband tussen slaapverlies en onder meer Alzheimer se siekte, kanker, diabetes, vetsug en ’n swak psigiese gesondheid is, ons heelwat meer moeite sou doen om genoeg slaap in te kry.
Hierdie bevinding het my laat dink. Gestel ons doen ’n navorsingstudie met twee groepe gelowiges. Groep 1 wat bestaan uit gelowiges wat daagliks saam met God tyd bestee en gereeld Bybel lees as groep 2 wat weet van God, maar Hom meer soos ’n spaarwiel gebruik omdat hulle lewens “net te besig” is vir ’n gereelde stiltetyd. Sou daar enige verband getrek kon word tussen die hoeveelheid tyd in God se teenwoordigheid en die hoeveelheid vrede wat hierdie gelowiges in hul harte ervaar het – veral in krisistye?
In God se teenwoordigheid leer ons Hom ken. Omdat ons weet dat Hy nie verander nie, kan ons selfs in moeilike tye steeds vrede in ons harte hê. As ons Hom egter nie ken nie, is dit heelwat makliker om in moeilike tye, paniekerig te raak. Ons bid dan desperaat, maar twyfel steeds in ons agterkoppe of Hy ons werklik kan help.
In Filippense 4:6-7 staan geskryf: “Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend. En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus.”Ook in Psalm 37:5 lees ons: “Laat jou lewe aan die Here oor en vertrou op Hom; Hy sal sorg.”
My slotsom is dus dit: Kom ons maak tyd vir God! Só gaan ons kan beleef wat dit beteken om vrede in ons harte te hê al beleef ons ook uitdagings in ons huwelik, gesondheid, werksomgewing of selfs in ons land. Ons Skepper verander nooit nie en Hy hou steeds die heelal in sy hande. Sterkte.
Vader God, baie dankie dat ek in elke moeilike tyd kan weet dat U daar is. Help my om my oë op U te hou sodat ek met totale vrede kan leef. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.
• Opdrag: Begin stel ’n reminder op jou foon. Al is dit 5 minute of 10 minute op ’n dag – maak tyd om stil te word in God se teenwoordigheid. Moenie net wag tot die noodlot ons tref nie.
• Terugvoer: Deel gerus jou terugvoer van die reeks op