Gaan kyk na die mier, luiaard - 10 Augustus 2017
Danny Fourie
Gaan kyk na die mier, luiaard, kyk hoe hy werk, en leer by hom. Hy het nie ’n leier nie, nie ’n opsigter of ’n regeerder nie, tog maak hy sy kosvoorraad reg in die somer, versamel hy sy voedsel in die oestyd. Spreuke 6:6-8
Ons leef in 'n tyd waarin ontspanning en vermaak 'n groot plek in ons lewe inneem. Gesonde ontspanning op sy tyd is goed. Ontspanning kan egter nie ten koste van 'n mens se werk gebeur nie. Werk is ongelukkig laag op baie mense se lys. Dit was ook die geval in Salomo se tyd. Daarom geld wat Salomo sê ook vir ons tyd: “Gaan kyk na die mier, luiaard, kyk hoe hy werk, en leer by hom.”
Dit is so dat verskillende mense baie hard werk. Daar is ook diegene wat te hard werk. Hulle dryf hul liggaam tot die uiterste, of anders gestel, hulle pleeg roofbou op hul liggaam. Dit is onverstandig. Ander werk liewers nie. Dit is duidelik dat hier nie na siekes, invalides en gedwonge werklose mense verwys word nie. Hulle kan nie werk nie. In sulke gesinne word heel dikwels 'n verborge hartseer gely.
Salomo het nie sulke mense in die oog nie. Salomo fokus op die mense wat nie wil werk nie. Hulle dink mense wat werk is dwaas en meen dat hulle self baie slim is. Iemand wat so leef, sondig. Hulle oortree die opdrag van die Here.
Baie mense sê hulle het geen belangstelling in die toekoms nie. Hulle ken geen stukkie verantwoordelikheid vir die volgende geslag nie. So word die toekoms afgebreek, in plaas van opgebou.
Veral jongmense moet na die miere kyk. 'n Mens se jeugjare is die beste tyd om na die miere te kyk en te leer om aan jou toekoms te bou. Woeker met jou talente, sê die miere. Dan sal jy die vrugte daarvan pluk. Baie mense sê in hul ouer leeftyd: ek het die tyd verby laat gaan. Nou is dit te laat om aan die toekoms te bou.
Wanneer ons die miere sien sorg vir hulle toekoms, dan roep die Here ons deur hul voorbeeld op om dit ook vir ons ewige toekoms te doen. Ons kan ook in 'n geestelike sin lui wees. Ons het geen sin daarin om die Here te dien nie. Ons doen dikwels min of niks daaraan nie. Of ons doen dit voetslepend en nie vrywillig nie. Dit is dan wat ons van die miere moet onthou.
Gebed: Here, help ons om vandag nog om aan die toekoms te bou, veral ons geestelike toekoms. Voordat ons voel dat die tyd ons ingehaal het. Help ons om vir ons kinders aan 'n toekoms te bou. Amen.