Gaan kyk na die mier, luiaard - 8 Augustus 2017
Danny Fourie
Gaan kyk na die mier, luiaard, kyk hoe hy werk, en leer by hom. Hy het nie ’n leier nie, nie ’n opsigter of ’n regeerder nie, tog maak hy sy kosvoorraad reg in die somer, versamel hy sy voedsel in die oestyd. Spreuke 6:6-8
Salomo se advies aan die luiaard is om na die miere te gaan kyk wat by sy huis besig is. Hulle is hard aan die werk. Een is besig om 'n saadjie saam te sleep en ander dra materiaal aan vir hul nes. Dit is 'n groot bedrywigheid om die miernes. Die luiaard moet maar goed kyk en 'n les by die miere leer.
Uit verskillende ondersoeke is gevind dat miere baie wys en werklustig is. Iemand het geskryf: “Ek het by miere groter boukuns gesien as in die paleise van Napels.” Nog iemand sê: “Die miere versamel koringkorrels, laat dit in die son droog, byt die punte af en neem dit ondergronds, waar hulle dit bewaar.” Hele voorrade graankorrels word op hierdie manier versamel. Daar is bevind dat miere gemiddeld sestien uur per dag werk.
Dit gaan egter nie net om die werklus van die miere nie, maar dit gaan ook oor die tydstip waarop hulle hul kragte aanwend. Dit is in die somer, as die oes op die land is. Juis dan is die miere besig om hul kos te versamel. Dalk is daar later niks meer op die land te kry nie, daarom werk hulle nou so hard. Op hierdie manier sal daar volop wees om in die winter te eet.
So sorg die miere vir die hul toekoms, vir hulle lewensonderhoud. Buitendien word die klein miere in die winter gebore en hulle moet ook iets te ete kry. So sorg die een generasie vir die ander.
Die luiaard moet ook maar goed kyk hoe die miere werk. Daar is nie 'n leier, opsigter of regeerder nie. Nie een van die miere word gedwing om te werk nie. Elkeen doen dit vrywillig. Daar is nie 'n baas wat bevele gee nie en daar word nie gestaak nie.
“Nog ’n bietjie slaap, nog ’n bietjie sluimer, nog ’n bietjie handevou en bly lê, en daar oorval die armoede jou soos ’n rower, daar oorrompel die gebrek jou soos ’n inbreker” (vers 10,11). By die miere is dit nie so nie. Die armoede van luiaards is hul eie skuld. Hul luiheid het hul ondergang gebring.
Gebed: Here, dikwels sien ons ons werk as 'n sware las en hoop dat ons werk en voorsorg vanself sal regkom. Leer ons om soos die miere vrywillig te werk en op die beste manier vir ons geliefdes te sorg. Amen.