Gaan kyk na die mier, luiaard - 7 Augustus 2017
Danny Fourie
Gaan kyk na die mier, luiaard, kyk hoe hy werk, en leer by hom. Hy het nie ’n leier nie, nie ’n opsigter of ’n regeerder nie, tog maak hy sy kosvoorraad reg in die somer, versamel hy sy voedsel in die oestyd. Spreuke 6:6-8
Al Salomo se kennis en wysheid kom uit die vrees van die Here. Dit is om met God en sy Woord rekening te hou in ons daaglikse lewe.
In hierdie verse laat Salomo die lig op 'n belangrike deel van ons lewe val, naamlik werk. Salomo wil sê dat ook in ons werk moet ons die Here vrees – dien.
God het die mens geskep om te werk en te rus. Adam en Eva het die opdrag gekry om die aarde te bewerk en te bewaar – 'n opdrag tot arbeid. Ondanks die sondeval het hierdie opdrag gebly, al sou dit dan met moeite wees. “… met swaarkry sal jy daaruit ’n bestaan maak, jou lewe lank,” het die Here vir hulle gesê.
Ons werk is 'n seën sowel as 'n vloek. Deur ons werk kan ons in ons lewensonderhoud voorsien. Dit is 'n wonderlike plan van God.
In Salomo se dae was daar mense wat nie wou werk nie, maar hulle wou darem eet. Hulle was eerder lui as moeg. Hulle het nog gelê en slaap as die son al hoog sit. Die dag deurgebring deur niks te doen nie. Salomo het hom hierteen kwaai uitgespreek. Wie so leef, is op 'n treurige pad.
Mense wat nie wil werk nie is nie alleen dom nie – hulle sal op die ou end verarm Die saak is egter veel erger. Mense wat nie wil werk nie, is ongehoorsaam aan hulle opdrag en hou nie rekening met die Here nie. So 'n persoon is 'n sondige dwaas. Luiheid lei reguit na ondergang.
Salomo gee aan die luiaard advies. Die advies is om die miere dop te hou en by hulle te leer. Salomo stuur die luiaard na 'n besondere skool. Die skool is nie ver nie, trouens dit is vlak voor die luiaard. Die luiaard hoef nie 'n klomp moeite te doen nie, anders sou hy of sy dit in elk geval nie gedoen het nie.
Gebed: Dankie Here dat ons kan werk en werk het. Ons bid vir baie wat wil werk, maar nie werk kan kry nie of wat om liggaamlike redes nie kan werk nie. Ons bid ook vir mense wat lui is, wat nie wil werk nie en tog wil eet. Help ons almal om u opdrag elke dag uit te voer. Amen.