Die wysheid nooi uit - 11 Augustus 2017
Danny Fourie
Wysheid het vir haar ’n huis gebou met sewe klippilare. Sy het geslag en wyn reggesit, sy het haar tafel gedek en haar bediendes na die stad toe gestuur om van die hoogste plek af te roep: “Kom hiernatoe, almal wat nog moet leer!” En vir dié wat kennis kortkom, het sy gesê: “Kom eet by my, kom drink van die wyn wat ek reggesit het! Spreuke 9:1-5
Die wysheid word hier as 'n persoon voorgestel, 'n goddelike persoon. Van die vroegste tye af het die kerk hierdie wysheid met die Seun van God verbind. Jesaja sê byvoorbeeld dat die Gees van wysheid op die Messias sal rus (Jesaja 11:2).
God se Seun is wys in sy woorde en dade. Hy vang selfs die listige Satan in sy wysheid. In Jesus se plaasvervangende offer vir ons sonde, skitter sy wysheid. Paulus skryf hieroor: “O diepte van die rykdom en wysheiden kennis van God! (Romeine 11:33)
Die wysheid het vir haar 'n huis op sewe pilare gebou – 'n volmaakte huis. Ook 'n heilige huis. Die wysheid het 'n tafel vol heerlike kos berei en die wyn met kruie gemeng. Hierdie tafel is 'n beeld van die geestelike heil wat die Here vir die mensdom voorberei het. Dit bevat al die gawes van Jesus Christus, veral sy werk vir verlore sondaars. Christus het Homself as lam laat slag – sy liggaam laat doodmaak en sy bloed laat vloei. Nou is sy liggaam waarlik voedsel en sy bloed waarlik drank (Johannes 11:55). Elke keer wanneer die Evangelie van die Wysheid verkondig word – in woord en sakrament – word hierdie maaltyd aangebied.
Die wysheid roep hard: “Kom eet by my, kom drink van die wyn wat ek reggesit het!” Dit laat 'n mens dink aan die bruilofsmaal in die gelykenis in Matteus 22:1-14. As die genooides nie opdaag nie, gaan die dienaars uit op die strate en roep en nooi almal wat wil kom. God self roep: “Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee” (Matteus 11:28) En: “Elkeen wat dors het, moet kom; elkeen wat die water van die lewe wil hê, moet dit kom kry, verniet!” (Openbaring 22:17). In dit alles bied Christus Homself aan.
Dit doen Hy vandag nog. Laat ons van die sigbaarste plekke hierdie uitnodiging herhaal. Kom ons prys die maaltyd van die wysheid aan. Hierdie maaltyd is lewensvoedend – dit is die werk van Jesus Christus wat volbring is.
Gebed: Dankie Here Jesus dat U ons elke dag nooi om van hierdie maaltyd te eet. Help ons om te verstaan dat ons en ander wat U nie ken nie, alleen behoue sal bly deur u versoenende bloed en liggaam wat U vir ons geoffer is. Amen