Christus die Oorwinnaar op sy troon vir altyd - 28 Julie 2017
Ewald Schmidt
“Dit is dieselfde kragtige werking van sy mag wat Hy uitgeoefen het toe Hy Christus uit die dood opgewek en Hom in die hemel aan sy regterhand laat sit het: hoog bo elke mag en gesag, elke krag en heerskappy, en wat daar ook al sprake van mag wees, nie net in hierdie bedeling nie, maar ook in die bedeling wat kom.” Efesiërs 1:19-21
Jesus se aardse lewe was ‘n pad van lyding. Die Seun van God moes sy hemelse adres verruil vir die lewe van ‘n dienskneg op aarde. Hy is in ‘n stal gebore, en selfs Nasaret waar Hy grootgeword het, het nie in Hom geglo nie (Markus 6:3). Hy is soos ‘n misdadiger aan ‘n kruis vasgespyker. Deur sy lyding het daar vir ons nuwe lewe gekom. Hy het in ons plek gesterf. Deur God se kragtige werking het Hy die dood oorwin, en opgevaar hemel toe.
Wat beteken dit vir ons? Jesus is die lewende Here. Ons volg in sy voetspore. Paulus bid dat ons dit sal sien, hoe ons Here Jesus nou heerser oor die heelal is. Deur sy oorwinning oor die dood is Hy heerser oor elke mag en gesag, krag en heerskappy, nou, en tot in ewigheid.
Paulus het in Romeine 8 meer hieroor uitgebrei. Hy het in vers 34 gevra: “Wie kan ons veroordeel? Christus Jesus het gesterf, maar meer as dit: Hy is uit die dood opgewek, Hy sit aan die regterhand van God, Hy pleit vir ons…” Daarop volg die belofte dat niks of niemand ons ooit weer van God se liefde kan skei nie, selfs nie lyding en die dood nie. Want, sê vers 37, ons is meer as oorwinnaars deur Hom wat ons liefhet.
Ons Here Jesus het ons op ‘n nuwe pad kom lei. Hy het vir ons kom wys dat die belangrikste ding in die heelal selfopofferende liefde is. Ons het sy opdrag ontvang om sy werk voort te sit, om ons naaste te gaan liefhê soos wat Hy ons liefhet. (Johannes 13:34) Om ander lief te hê bring soms lyding en vernedering mee. Maar Jesus het ons gewys hoe om lief te hê al maak dit seer, al kos dit ons alles. Paulus bid dat ons sal sien dat die pad van selfopofferende liefde lei tot ewige oorwinning. Mag ons Jesus op sy troon sien, aan die regterhand van dieVader, waar Hy vir ons intree om meer as oorwinnaars deur sy liefde te wees. Mag dit ons inspireer om ander te gaan dien, soos Hy.
Gebed: Dankie Here Jesus, dat U die Oorwinnaar op die troon is. Dankie dat U die Heerser oor elke mag en gesag is, en dat ons meer as oorwinnaars deur u liefde word. Lei ons dan deur u Gees op die oorwinningspad, terwyl ons u liefde uitleef teenoor elke mens wat ons pad kruis! Amen.