Christus ons Hoof – ‘n kerk wat omgee - 31 Julie 2017
Ewald Schmidt
“Ja, aan Hom het God alles onderwerp, Hom bo alles verhef en Hom aangestel as hoof van die kerk.Die kerk is sy liggaam, die volheid van Hom wat alles in almal vervul.” Efesiërs 1:22-23
In hierdie laaste verse word opgesom wat ons as gelowiges se nuwe lewe in Christus behels. Wanneer Paulus sê dat alles aan Jesus onderwerp is, haal hy Psalm 8:6 aan. Hierdie Psalm keer terug na God se besluit in Genesis 1:26-28 toe Hy die mens gemaak het, en aangestel het om te heers oor die Skepping. Die mens het ‘n groot gemors gemaak van ons heerskappy oor God se skepping. Die haat tussen mense, en die vernietiging van die natuur is bewyse daarvan. Maar God het sy Seun gestuur om weer vrede te kom herstel, om ‘n nuwe alternatief te bied waarin mense weer vrede kan ervaar tussen God en mens, mens en medemens. Verantwoordelike Christene gee ook om vir God se skepping. Jesus se Koningskap is gerig daarop om die wêreld weer in harmonie te bring met God se oorspronklike plan.
Daarom word mense wat in Jesus glo, deel van sy liggaam, die kerk hier op aarde. Die kerk is ook nog nie volmaak nie. Daar waar die mens se eie ek in beheer van die kerk is, en ons ons eie agendas najaag, lyk die kerk nie na ‘n plek van liefde, aanvaarding en hoop nie. God se plan, soos reeds in vers 10 gesien, was om alles en almal onder Jesus as Hoof te verenig. Die liggaam moet dieselfde DNA as die Hoof hê, want waar Jesus Hoof is, kan die kerk sy volheid uitleef. Die Hoof het ons kom wys hoe liefde lyk. Jesus het vrede met God kom bring, en wanneer ons in Hom glo, vrede met ons naaste. Jesus het dan selfs beveel dat ons ons vyande moet liefhê. Die karakter van ons Hoof is diens, selfopoffering, liefde teenoor alle mense. Dit is hoe sy kerk hier op aarde moet lyk. Waar ons liefhet, en dien, ophelp in plaas van veroordeel, dan sien die wêreld die ware liefde van Christus raak. Waar Jesus ons Hoof is, moet ons liefhê. Daardie liefde verander die wêreld rondom ons in ‘n beter plek! Dit gee mense hoop, dit help stukkende mense om weer heel te word. Dit is vol genade. Die liggaam moet word soos die Hoof, dan kom ons lewens in balans.
Gebed: Here Jesus, dankie dat U ‘n goeie Hoof vir u liggaam is. U is vol genade, waarheid en liefde. U het ons kom leer om ons naaste te dien. Help u kerk om soos U te word, dan kan ons boodskappers van hoop vir hierdie seer en stukkende wêreld wees. Amen.