God se krag om in Jesus se voetspore te volg - 27 Julie 2017
Ewald Schmidt
“Ek bid dat Hy julle geestesoë so verhelder dat julle kan weet watter hoop sy roeping inhou, en watter rykdom daar is in die heerlike erfenis wat Hy vir die gelowiges bestem heten hoe geweldig groot sy krag is wat Hy uitoefen in ons wat glo. Dit is dieselfde kragtige werking van sy mag wat Hy uitgeoefen het toe Hy Christus uit die dood opgewek en Hom in die hemel aan sy regterhand laat sit het. Efesiërs 1:18-20
Paulus se gebed bring ons by die hart van die evangelie. Hy bid dat elke mens se geestelike oë geopen sal word, om te sien hoe groot God se krag is in elkeen wat glo. Dit is net met die Here se krag wat ons in staat is om los te breek van die ou mens in ons, en om Jesus te volg. Maar hoe groot is daardie krag van God wat in my werk?
Paulus sê: God se krag het Jesus opgewek uit die dood. Dit is die kern van die Christelike geloof, Paulus sê in 1 Korintiërs 15:14 dat ons geloof sonder enige waarde sou wees as Christus nie uit die dood opgewek is nie. Hierdie bly die een struikelblok vir so baie mense om te glo: hoe kan iemand wat gesterf het, weer lewend word? Paulus verwys na meer as 500 ooggetuies aan wie Jesus na sy dood verskyn het in 1 Korintiërs 15:6. In ‘n Romeinse hof destyds was die getuienis van drie betroubare manne al klaar genoeg om ‘n saak te wen. Vir sommiges bly dit ‘n struikelblok. Maar vir so baie Christene deur die eeue heen was dit ‘n rede tot groot blydskap: Jesus het die dood oorwin, en Hy is ons Lewende Here!
Die punt wat Paulus in hierdie gebed wil maak, is dat God met sy groot krag ons Here Jesus uit die dood opgewek het. Dit bly die wonder wat ons lewens radikaal kom verander het. Die troos wat Paulus bied, is dat daardie presiese opstandingskrag ook in ons lewe aan die werk is. Dit is die krag van God wat ons kom verander het, wat ons ‘n nuwe lewe in Christus kom gee het. Daardie krag is lewenslank aan die werk in ons, totdat ons ook eendag Jesus in die hemel aan die regterhand van die Vader sal sien. Daardie krag van God stel ons in staat om te glo, en om te volhard wanneer die uitdagings van hierdie lewe soms so moeilik word. Paulus brei in 1 Korintiërs 15 daarop uit dat ons in Jesus se voetspore volg ‑ sy opstanding uit die dood maak ons opstanding moontlik. Sy opstanding bring vir gelowiges die ewige lewe. Paulus bid hier in Efesiërs 1 dat ons dit in die geloof sal ontdek, en dat dit vir ons deel van die hoop van ons roeping sal wees, deel van die kosbare erfenis wat Jesus vir ons verdien het.
Gebed: Dankie Jesus, dat U leef! Lei my deur u krag na die ware lewe! Amen