Breek los van jou ou lewe! - 26 Julie 2017
Ewald Schmidt
“Ek bid dat Hy julle geestesoë so verhelder dat julle kan weet watter hoop sy roeping inhou, en watter rykdom daar is in die heerlike erfenis wat Hy vir die gelowiges bestem heten hoe geweldig groot sy krag is wat Hy uitoefen in ons wat glo. Dit is dieselfde kragtige werking van sy magwat Hy uitgeoefen het toe Hy Christus uit die dood opgewek en Hom in die hemel aan sy regterhand laat sit het. Efesiërs 1:18-20
Jesus het ons geroep om Hom te volg op ‘n nuwe pad van hoop. Daar is ‘n ryke erfenis vir elkeen wat Hom volg. Maar dit vra ‘n radikale koersaanpassing in ons lewens. Die Here het vir ons elkeen ‘n lewe van uitnemendheid beplan, Hy gee ons nuwe drome en nuwe visie. ‘n Goeie lewensdroom moet jou sommer baie bang maak. Dit moet vir jou amper onmoontlik lyk om daarby uit te kom. Dit vra ‘n groot klomp energie en wilskrag om van die gebaande weë af te klim, en uit jou gemaksone los te breek.
Vir die grootste deel van die mensdom se geskiedenis het ons nooit die aarde verlaat nie. Ons het nie gedink dit is moontlik nie. John F Kennedy het in 1963 die uitdaging gestel om ‘n man op die maan te land voor die einde van die dekade. Die grootste uitdaging nog altyd was die gravitasiekrag van die aarde. ‘n Spoed van 11 km per sekonde moet bereik word, om die aarde se swaartekrag te breek. Om hierdie spoed te bereik, is 90% van ‘n ruimtetuig se gewig die brandstof wat dit aandryf, en die meeste daarvan gaan in die eerste minuut van vlug opgebrand word om die aarde se gravitasie te verlaat. So sê Tsiolkovsky se Vuurpylwet. My punt is dit: jy kan spring soos jy wil, jy kan nie self van die aarde afspring nie! Groot krag is nodig.
My gemaksone, en my ou lewe waarin ek koning is, het net so ‘n massiewe aantrekkingskrag in my lewe. Waar gaan ek die krag vandaan kry om te verander, om los te breek, om te volg waar Jesus my wil lei? God gee dit graag! Paulus bid dat ons geestesoë sal oopgaan om te sien hoe groot die krag van God is wat in ons werk. Hy stel ons in staat om van koers te verander. Hy kom maak ons vry van al die bagasie wat ons terughou, Hy laat ons met arendsvlerke vlieg! (Jesaja 40:31)
Gebed: Here, U het my nie net geroep om vir altyd veilig in my gemaksone te bly nie. U wil my so graag lei op nuwe paaie, en help om ‘n lewe van uitnemendheid te leef tot u eer. Dis so moeilik om los te breek van my ou manier van dink, en om te waag om U te vertrou. Maak my geestesoë oop om u krag in my lewe raak te sien. Breek my los van alles wat my terughou, en help my om met arendsvlerke te vlieg! Amen