My rykdom is ‘n nuwe lewe saam met Jesus! - 25 Julie 2017
Ewald Schmidt
“Ek bid dat Hy julle geestesoë so verhelder dat julle kan weet watter hoop sy roeping inhou, en watter rykdom daar is in die heerlike erfenis wat Hy vir die gelowiges bestem het” Efesiërs 1:18
Die dag toe Jesus sy dissipels geroep het om Hom te volg, het hulle alles agtergelaat, en ‘n nuwe lewe saam met Hom begin. Dit is waar van elke gelowige se lewe. Wanneer ons Jesus begin volg, is daar ‘n ou lewe wat ons agterlaat. Ons het op ‘n nuwe manier begin dink, en sekere ou maniere van dink, en van optree, pas net nie meer in by wie ek nou in Christus is nie. Om Jesus te volg, het nog altyd ‘n prys gekos. Jesus het dit in Matteus 7:14 genoem dat ons die smalle weg moet kies. Hy het gesê as ons Hom wil volg, sal ons bereid moet wees om ons eie kruise op te neem, en dieselfde as Hy behandel te word (Matteus 10:38). Vir die eerste lesers van Paulus se briewe was dit ‘n harde realiteit om verwerping en vervolging te beleef. Dit is so menslik om soms te begin wonder of dit die moeite werd was.
Wanneer ons met nuwe oë van geloof begin kyk, ontdek ons die heerlike erfenis wat God in ruil vir ons ou lewens gegee het. Hierdie hoofstuk het soveel voorbeelde gegee van die rykdom van ons erfenis in Christus. Dit het ons kom verseker dat God ons lewens beplan het, dat Hy sy Seun gestuur het om ons sy kinders te maak. Jesus het in ons plek gesterf en daarmee vir ons as gelowiges ‘n hemelse erfporsie nagelaat. Ons sondes is vergewe, ons het deel van God se volk geword, en ons lewe nou op ‘n nuwe manier, gelei deur die Heilige Gees. Ons erfenis in Christus is ‘n nuwe identiteit, en ‘n nuwe toekoms. Ons lewens maak sin, want God is met ons op pad, en help ons om uit te kom by die roeping waarvoor Hy ons gemaak het. Dit is ‘n heerlike erfenis: om ‘n nuwe mens met ‘n nuwe toekoms te wees, en saam met Christus op weg te wees.
Gebed: Dankie Here Jesus dat U vir my gesterf het, en daarmee vir my ‘n heerlike erfenis nagelaat het. Dankie dat U opgestaan het, en daardie erfenis met my deel. Help my om te onthou wie U is, en wie ek in U is wanneer ek soms twyfel. Amen.