Mense wat met hoop kan lewe - 24 Julie 2017
Ewald Schmidt
“Ek bid dat Hy julle geestesoë so verhelder dat julle kan weet watter hoop sy roeping inhou, en watter rykdom daar is in die heerlike erfenis wat Hy vir die gelowiges bestem het,” Efesiërs 1:18
Dit is verstommend hoe verskillend mense moeilike tye hanteer. Die Duitse konsentrasiekampe in die Tweede Wêreldoorlog is sekerlik die ergste vorm van die wreedheid wat mense aan mekaar kan aandoen. Sommige mense het net moed opgegee, en in die heinings vasgehardloop om doodgeskok te word. Ander het teen alle verwagtinge in oorleef tot die kampe ontset is. Wat het die verskil gemaak? Die Joodse sielkundige Victor Frankl was so ‘n oorlewende. Hy skryf in sy boek “Man’s Search for Meaning” dat die groot verskil tussen moed opgee, en aanhou oorleef net een ding was. Hoop. Sommiges het geen uitkoms en geen toekoms meer gesien nie, en niks gehad om voor te lewe nie. Hulle het dit nie gemaak nie. Ander het erens aan iets vasgehou in hulle gedagtes ‑ ‘n rede vir hulle om net nog ‘n dag uit te hou. Daar was iets in hulle harte wat hulle laat vashou het aan Hoop. Iets om voor te lewe, iets wat die slegste moontlike omstandighede oorwin.
Wanneer Paulus vir gelowiges skryf in Efese, ervaar hulle waarskynlik alreeds verwerping en vervolging vir hulle geloof. Wat sal hulle laat moed hou om aan te hou in daardie moeilike tye? Die manier waarop ‘n mens na die lewe kyk. Paulus bid dat hulle met nuwe oë na hulle werklikheid sal kyk. Daarom bid hy dat die Here hulle geestelike oë sal oopmaak, dit sal hulle omstandighede verhelder en duideliker maak. In die moeilike tye van ons lewe is God teenwoordig. Vandag mag moeilik wees, maar God se kinders is nooit weer alleen in donker dieptes op die lewenspad nie. Paulus bid dat elke gelowige dit sal raaksien. Ons Here Jesus het ons op die naam geroep om Hom te volg, en daardie roeping het ons lewe verander. Die lewenspad waarop Jesus ons lei mag soms moeilik wees. Maar die eindbestemming, en die reis saam met Hom, vul ons met Hoop. Dit gee ons elke dag ‘n rede om aan te hou op ons lewenspad.
Gebed: Here, soms verstaan ek nie die kronkels in my lewenspad nie. Soms verkeer ek in die donker dieptes, waar ek die gevaar en die swaarkry raaksien. Sal U asseblief ook my geestesoë verhelder, en my help om met nuwe oë na my lewenspad te kyk? Help my om die hoop raak te sien wat U in my lewe gebring het. Help my om raak te sien dat ek nooit alleen is nie, en dat U my lei na ‘n beter toekoms. Dankie vir Hoop! Amen.