'n Gebed vir Wysheid om God werklik te ken - 21 Julie 2017
Ewald Schmidt
“Wanneer ek in my gebede aan julle dink bid ek dat die God van ons Here Jesus Christus, die Vader aan wie die heerlikheid behoort, deur sy Gees aan julle wysheid gee en Hom so aan julle openbaar dat julle Hom werklik kan ken.” Efesiërs 1:16b-17
Ons sê dalk so maklik vir mekaar: “Ek bid vir jou”. Ons sê dit dikwels wanneer ‘n medegelowige deur moeilike tye gaan. Soms kan ons dit selfs gebruik wannneer ons nie eintlik ‘n idee het wat om te sê oor die lyding of beproewing wat ‘n ander deurmaak nie.
Wanneer Paulus na sy gebedslewe verwys in vers 16b, gebruik hy die Griekse taalvorm vir voortdurende aksie. Dis nie maar net ‘n eenmalige handeling nie, nee, hy hou aan, en bid nogal baie spesifiek vir hulle. Die kerk in Efese het waarskynlik alreeds deur baie vervolging en lyding gegaan as gevolg van hulle navolging van Jesus. Tog is Paulus se eerste gebed nie dat die Here hulle sal seën met beskerming, gesondheid en rykdom nie.
Paulus se eerste deel van sy gebed is om diep bewus te raak van God se teenwoordigheid. Paulus bid tot die God van ons Here Jesus. Wanneer hy hom tot God wend, noem hy God die “Vader aan wie die heerlikheid behoort…” God se heerlikheid is so ‘n teenstelling met die tronksel waarin Paulus hom waarskynlik bevind, of die vervolging wat sy eerste lesers in Efese beleef. Ons ervaring van ons realiteit maak dit soms moeilik om aan God in heerlikheid te dink. Ons vergeet soms aan Wie ons behoort wanneer dit met ons swaar gaan.
Daarom is dit die fokus waarop Paulus sy gebed rig ‑ mag gelowiges in alle omstandighede deur die Gees wysheid ontvang dat ons God mag ken vir Wie Hy is. Wanneer ons bid, kan ons so maklik vashaak by ons omstandighede, veral as dit moeilike tye is. Ons kan ook so bly draai om ons eie behoeftes aan gesondheid, aan materiële dinge wat ons dink ons nodig het. Maar Paulus se gebed begin waar die Heilige Gees God aan ons openbaar, en ons Hom leer ken vir wie Hy is.
Wanneer ons fokus in gebed op onsself en ons probleme is, dan val ons so maklik vas in verbittering en selfbejammering. Wanneer ons gebede ons aan God se teenwoordigheid herinner, wie Hy is, en aan Wie ons behoort, dan kom ons probleme ook in die regte perspektief.
Gebed: Dankie Here dat U in my lewe teenwoordig is! Dankie dat U God is, groot en verhewe, dat al die eer en heerlikheid aan U behoort. Help my deur u Gees om U al beter te leer ken, en al meer met my hele lewe te vertrou! Amen.