‘n Gebed vir medegelowiges - 20 Julie 2017
Ewald Schmidt
“Daarom, vandat ek gehoor het van julle geloof in die Here Jesus en van julle liefde vir al die gelowiges, hou ek ook nie op om God vir julle te dank nie.” Efesiërs 1:15-16a
Paulus het waarskynlik nog nie die gelowiges van Efese persoonlik ontmoet wanneer hy hierdie brief van bemoediging aan hulle skryf nie. Tog sien Paulus dadelik die werk van God raak in hierdie mense se lewens. Die belangrikste ding wat oor hulle bekend geword het, is dat hulle glo in die Here Jesus. Dit moes ‘n reuse impak in hulle lewens gemaak het om daardie geloofsprong te maak. Elkeen in hierdie gemeente in Efese moes ‘n ou lewe agter los om Jesus te begin volg, en dit het vir hulle ‘n groot prys gekos, omdat hulle deur hulle volksgenote verwerp is. Geloof in Jesus as Here was lewensgevaarlik in die Romeinse Ryk in die eerste eeu na Christus. Tog was hulle bereid om die prys te betaal vir hulle geloof.
Die tweede groot eienskap wat Paulus van gehoor het, was hulle liefde vir al die gelowiges. Ook hier moes ‘n groot werk van die Heilige Gees plaasvind. Daar was soveel verskillende grense in die destydse samelewing. Groot onderskeid is getref tussen man en vrou, Griek of Jood, slaaf of vry… (soos gesien in Galasiërs 3:28). Maar deur die Here se werk het die menslike grense nie meer saakgemaak nie. Almal wat in Christus glo, het deel van God se familie geword (Efesiërs 2:18 noem ons sy huisgesin.) Almal staan onder Jesus se opdrag in Johannes 13:34, dat ons mekaar moet liefhê soos Jesus ons liefhet. Dit was ‘n radikale nuwe idee in die wêreld dat verskillende mense een in Jesus kan wees, en mekaar kan liefhê en ondersteun. Efese se gelowiges het dit mooi reggekry. Die liefde tussen gelowiges is een van die grootste getuienisse dat Jesus die Here is. Daarom kon Paulus die Here dank vir die gemeente in Efese, en bid vir broers en susters wat hy nog nie ontmoet het nie.
Dis mos wat saakmaak in God se koninkryk - om God van harte lief te hê, en ook jou naaste soos jouself. Dis ‘n moeilike opdrag in ‘n gevaarlike wêreld. Kom ons bid ook vir mekaar, al het ons nog nooit ontmoet nie.
Gebed: Here, baie dankie vir elke kind van U wat glo dat Jesus die Here is. Dankie vir elke stukkie liefde wat daar tussen medegelowiges in hierdie wêreld is. Beskerm en bewaar my medegelowiges en lei hulle op hul pad van oorwinning, in Jesus se Naam. Amen.