My toekoms is gewaarborg waar die Gees my lei! - 19 Julie 2017
Ewald Schmidt
Die Heilige Gees is die waarborg dat ons ook verder sal ontvang wat God belowe het, wanneer Hy almal wat aan Hom behoort, volkome sal verlos. Daarom moet ons sy grootheid prys.” Efesiërs 1:14
Hoe weet ons of ons iemand kan vertrou? Wanneer ons ‘n transaksie aangaan wil ons ‘n waarborg hê. Die konsep van ‘n waarborg of pand is van vroeg af deur die Grieke gebruik in hulle handel met die Phoenisiërs. Wanneer ‘n koper iets by ‘n verkoper koop wat hy nie dadelik betaal nie, moes hy iets van groter waarde gee, wat as pand gehou is totdat die skuld klaar betaal is. Dieselfde woord wat vir waarborg hier gebruik word, is ook die woord vir ‘n verloofring- iemand wat sy ring gee as sy belofte van trou.
Jesus het in Johannes 14:2-3 al belowe dat Hy gaan om vir sy volgelinge plek voor te berei in sy Vader se woning. Hy kom eendag terug en kom haal ons om saam met Hom daar te wees. Paulus vertel ook in 2 Korintiërs 5:4 van die hemelse woning wat voorberei word wanneer ons tyd in hierdie aardse tentwoning voltooi word. Kinders van God lewe met die verwagting dat Jesus vir ons ‘n heerlike toekoms voorberei het. En totdat dit in vervulling gaan, het Hy vir ons ‘n waarborg of pand agtergelaat - die teenwoordigheid van die Heilige Gees. Paulus sê dit in 2 Korintiërs 5:5 “Hy wat ons vir hierdie oorgang voorberei het, is God. As waarborg hiervan het Hy ons sy Gees gegee.”
Die teenwoordigheid van die Heilige Gees, wat die toekoms waarborg, vervul ons met moed, sê Paulus in 2 Korintiërs 5:6. Die Heilige Gees wat in ons woon, het ons ‘n nuwe identiteit gegee as kinders van God, en Hy waarborg ons toekoms - dat ons op pad is om eendag ons hemelse bestemming te bereik. Die Heilige Gees kom waarborg in my lewe dat God betroubaar is, Hy sal sy beloftes waar maak. Die Heilige Gees se leiding op hierdie lewensreis bring hoop, al is vandag hoe moeilik, my toekoms is veilig in my God.
Hoe antwoord ons op die teenwoordigheid van die Heilige Gees in ons lewe, wat ons ‘n nuwe identiteit gee en ons toekoms waarborg? Ons moet sy grootheid prys!
Gebed: Heilige Gees, dankie dat U die waarborg is dat God se beloftes in my lewe waar sal word. Dankie dat my toekoms veilig in U is! Mag my lewe ‘n lofprysing tot u eer wees! Amen.