Die Heilige Gees waarborg dat ons nou God se kinders is. 18 Julie 2017
Ewald Schmidt
“In Christus het die Heilige Gees wat deur God belowe is, julle as die eiendom van God beseël.” Efesiërs 1:13b
Elkeen wat glo dat Jesus die Here is, het deel van God se eiendom geword. Dit is die wonderlike belofte wat die evangelie vir mense oor die wêreld heen bring. Tog was dit nie vir almal ewe maklik om dit te aanvaar nie. In die eerste eeu, met Paulus en ander se sendingreise was die tendens dat baie meer mense wat nie Jode was nie, die evangelie aanvaar en Jesus as Here leer ken het. In die Jerusalem gemeente was daar gelowiges wat voorheen Fariseërs was. Hulle het aangedring daarop dat alle nie-Joodse gelowiges eers besny moes word, en die Wet moes onderhou soos die Jode, voor hulle in die kerk toegelaat kon word. Dit lei tot ‘n groot kerkvergadering in Jerusalem met die vraag: wie is welkom om deel van God se eiendom, sy volk te wees? Petrus antwoord in Handelinge 15:8-9 “En God, wat die harte ken, het dit bevestig deur die Heilige Gees aan hulle te gee net soos aan ons. Hy het geen onderskeid tussen ons en hulle gemaak nie: Hy het ook hulle harte deur die geloof gereinig.”
Vandag kan gelowiges uit verskillende agtergronde nog steeds soveel energie vermors deur te wonder wie nou eintlik die Here se eiendom sou wees, en wie uitgesluit daarvan sou wees. Die kerkvergadering in Jerusalem met verskeie apostels teenwoordig, en in baie van Paulus se uitsprake word dit bevestig: iemand wat die Heilige Gees ontvang het, is as deel van God se eiendom beseël. Hoe weet ons of iemand die Heilige Gees ontvang het? Volgens 1 Korintiërs 12:3 is die duidelikste teken daarvan dat iemand bely dat Jesus die Here van sy of haar lewe is.
Ons mag oor so baie verskillende interpretasies van die Bybel verskillende menings hê. Kom ons vier dit eerder dat ons deur die Heilige Gees, deur ons geloof in Jesus Christus, as God se eiendom beseël is!
Gebed: Gees van God, dankie dat U op ‘n nuwe manier met mense kom werk. Dankie dat U ons as God se eiendom beseël wanneer ons tot geloof in Jesus gekom het. Hou asseblief aan met u goeie werk, om ons lewens te verander dat ons meer en meer soos God se eiendom in hierdie wêreld sal lyk! Amen