Nou deel van God se mense! - 17 Julie 2017
Ewald Schmidt
“Deur Christus het ook julle deel geword van die volk van God toe julle die waarheid wat aan julle verkondig is, die evangelie van julle verlossing, gehoor en tot geloof gekom het.” Efesiërs 1:13a
Verskillende groepe mense het nog altyd met mekaar vasgesit rondom die kwessie van identiteit. Die groot strydvraag in die eerste eeu se kerk was of mense wat nie Jode was nie, ook deel van God se plan van redding kon wees. Is die Here nie net Israel se God nie?
Paulus beklemtoon ons nuwe identiteit in Christus. Hy praat met Jode en Grieke wat Jesus as Here leer ken het. Iets nuuts het gebeur. Iemand het hulle lief genoeg gehad om aan hulle die waarheid te vertel wat mense se lewens verander. Hulle het die evangelie gehoor, die boodskap dat God hierdie wêreld se mense so lief het dat Hy sy Seun vir ons gestuur het, sodat elkeen wat in Hom glo nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê (Johannes 3:16). Hulle het nie net die boodskap gehoor nie, maar dit geglo. Hulle het hulle lewens aan Jesus as Here van hulle lewe toevertrou. En nou het hulle ‘n nuwe identiteit. Hulle is nou deel van God se volk, deel van sy familie.
Ons ken die soeke na identiteit in ons land. Ons is afkomstig van soveel verskillende etniese groepe, en ons praat verskillende tale. Vir ons verskillende groepe beteken dit glad nie dieselfde ding wanneer ons sê dat ons Suid-Afrikaners is nie. En tog, soos in Efese van ouds, is daar ‘n nuwe identiteit wat groter is as my taal en kultuur. My nuwe identiteit is dat ek aan God behoort, dat ek ‘n nuwe mens geword het deur my geloof in Christus. Dit sluit nie my taal en kultuur uit nie, maar word iets groter as dit: ek is nou deel van God se mense! Met God se liefde is ek nou deel van sy volk, wat in liefde na die mense rondom ons uitreik om God se liefde sigbaar te maak. Ons is hier om te dien, om ‘n verskil te maak, en om die wêreld positief te verander.
Gebed: Here, rondom my is daar soveel mense wat anders as ek is. Soms sukkel ons om mekaar te verstaan. Dankie dat u liefde soveel groter is as die mure wat ons tussen mekaar oprig. Dankie dat elkeen wat in Jesus glo, deel van u nuwe volk geword het. Dankie dat ek deel van die nuwe liefdesgemeenskap, die familie van God mag wees! Amen.