Nuwe mense leef met nuwe hoop! - 14 Julie 1:11
Ewald Schmidt
"Daarom moet ons, die eerstes wat ons hoop op Christus gestel het, die grootheid van God prys." Efesiërs 1:12
Dit is so lekker om bewus te word daarvan dat iemand vir jou lief is. Jou hele ervaring van die lewe word baie meer positief. Dit verander sommer die hele ervaring van menswees. Maar selfs groter as hierdie impak van 'n mens wat vir jou terug lief is, is daardie dag wanneer jy jou Hemelse Vader se liefde vir die eerste keer leer ken. So baie mense het nie in Christelike ouerhuise groot geword nie. Diep in jou hart was jy soekend na die sin van die lewe. Jy het net ervaar dat jou lewe iets groots ontbreek. Op 'n unieke manier het jy van die liefde van Jesus bewus geword. Was dit deur die omgee van 'n vriend, of dalk op 'n kamp waarheen vriende jou saamgesleep het? Jy het bewus geword dat Jesus leef, en dat Hy jou op die naam roep om Hom te volg. Jy het geantwoord, en saam met Jesus jou lewenspad begin stap. Dit het vrede en blydskap gebring!
Paulus, en die Jode en Grieke in Efese wat Jesus leer ken het, was van die eerstes ooit wat Hom as Here leer ken het. Waar die lewe voorheen nie sin gemaak het nie, het hulle hul hoop op Christus gestel. Hulle het Hom vertrou met hulle hele lewe, en met hulle toekoms. Dit is so 'n mooi manier om die lewe van geloof te beskryf – ek is iemand wat my hoop op Christus stel …
Paulus het van vers 6 af so baie dinge beskryf wat Jesus vir ons gedoen het. Ons is deur die bloed van Jesus gered, en al ons sonde is vergewe. Ons is deel van God se nuwe familie, sy volk wat Hy bymekaar maak oor die wêreld heen, Hy het ons nuwe hoop kom gee, ons is mense met 'n nuwe lewe en 'n nuwe toekoms. Wanneer Paulus so noem wat Jesus alles vir ons gedoen het, dan word daar van ons ‘n reaksie gevra. Wat doen Jesus se liefde aan my lewe? Ons reaksie is dieselfde as toe ons van die Vader se liefde bewus geword het daar in vers 5. As ons glo in Jesus, en bewus is van sy liefde, dan word ons opgeroep om sy grootheid te prys. Weer eens is lofprysing nie net beperk tot 'n lied of twee wat ek sing nie. Dit word 'n lewenswyse waarin ek vir Jesus sy ereplek in my lewe gee. My lewe word daaraan gewy om Hom te verheerlik in alles wat ek doen. Soms sal ek ook woorde daarvoor gebruik.
Gebed: Here Jesus, U is waardig om al die eer in die hemel en op aarde te ontvang. Deur u offer en u oorwinning oor die dood het U alles wat ons gevange gehou het, kom vernietig. U het ons in staat gestel om God se kinders te word. U het vir ons nuwe lewe kom gee, en nuwe hoop waarmee ons elke dag lewe. Daarom sal ons U vir altyd dankbaar bly! Amen