Deur Jesus is daar 'n plek waar ek tuis hoort! - 13 Julie 2017
Ewald Schmidt
"Deur Christus het ons deel geword van die volk van God soos Hy dit vooruit al bestem het. So het Hy Hom dit voorgeneem, Hy wat alles laat gebeur volgens sy raadsbesluit." Efesiërs 1:11
Die vlugtelingskrisis is een van die grootste uitdagings van ons tyd. Daagliks sien ons die pyn van mense wat net met die besittings wat hulle kan dra, vlug voor die vernietigende mag van oorlog. Mense waag dit op onstabiele bootjies om oor die Middellandse See na lande te vlug waar hulle hoop op 'n nuwe toekoms, en 'n stukkie veiligheid. In die televisieonderhoude met vlugtelinge hoor jy die gebrokenheid van dit wat hulle in die proses verloor het. Vlugtelinge getuig van die trauma om nerens meer tuis te wees, en welkom te voel nie.
Omdat Christene anders as die samelewing was in Efese, is hulle deur die gemeenskap verwerp. In die eerste eeu het daar alreeds ernstige vervolging van Christene deur die Romeinse ryk plaasgevind. Christene kon nie die Romeinse keiser as 'n god vereer nie, en is daarom as rebelle beskou. Dwarsdeur die eeue het geloof in Jesus mense 'n prys gekos, dit het vir so baie mense verwerping meegebring deur familie en gemeenskap.
Daarom is dit so belangrik om te weet dat ons 'n nuwe identiteit in Christus ontvang het. Ons is God se nuwe volk. Ons behoort aan die Here, en ons behoort aan mekaar. Ongeag ons agtergrond het die Here ons een nuwe volk in geloof gemaak. Die wêreld mag vol haat en geweld wees, maar in die kerk van Jesus behoort ek tuis. Die kerk is my mense wat vir my omgee. Baie mense beleef dit ongelukkig nie so in die kerk nie. Vir baie kan kerk ook 'n plek van oordeel en seerkry wees. Dis nie hoe God die kerk bedoel het om te wees nie! Mag ons wat deur Jesus nuut gemaak is, so lewe dat alle stukkende mense by ons tuis voel, en Jesus se helende liefde deur ons ervaar!
Gebed: Dankie Here dat U steeds vandag stukkende mense heel kom maak deur die liefde van Jesus. Dankie dat ons nie meer vlugtelinge in hierdie wêreld is nie, maar deel geword het van u volk! Leer ons om met sagte oë te kyk na mense wat nog soekend is na u genade. Amen