'n Nuwe Koninkryk met 'n goeie Koning -12 Julie 2017
Ewald Schmidt
"Hy het kragtens sy besluit en voornneme die geheimenis van sy wil aan ons bekend gemaak, en dit deur Christus tot uitvoering gebring op die tyd wat Hy daarvoor bepaal het. Sy bedoeling was om alles wat in die hemel en alles wat op die aarde is, onder een hoof te verenig, naamlik onder Christus." Efesiërs 1:9-10
Die Bybel het begin met die Paradysverhaal, waar God en sy mense in totale harmonie saam geleef het. Ons weet mos daar is byna niks van daardie ideale toestand van menslike bestaan meer sigbaar nie. Die mens het sy eie koning geword, en dit wat ons die meeste seermaak, is die mens se selfsug. Wanneer ek my eie koning is, dan draai my hele bestaan rondom die bevrediging van my behoeftes, en die bevordering van my belange. Elke koerant en nuusberig getuig hoe groot vernietiging daar in die mens se selfsug is. Wanneer ek koning is, dan volg daar maklik woede wanneer ek nie kry wat ek wil hê nie. Mense se ego's lei tot haat, geweld, oorlog. Ons selfsug lei tot die vernietiging van ons planeet. Die mens het die aarde se enkele grootste bedreiging geword!
Daar is 'n baie beter alternatief. God se plan was om vir ons 'n nuwe Koning te gee, en sy Koninkryk sal so 'n groot verandering bring. Hoe lyk dit waar Jesus as Koning geëer word? Mense leef in 'n verhouding met God waar hulle Hom liefhet met hart, siel en verstand. Jesus-volgelinge leef ook op 'n nuwe manier teenoor hul medemens. Jesus se aanvanklike opdrag was om ons naaste soos onsself lief te hê. In Johannes 13:34 maak Hy dit net soveel moeiliker – "Julle moet mekaar liefhê, soos wat Ek julle liefhet." Jesus se Koninkryk is ‘n plek waar liefde heers, waar mense mekaar liefhet, en mekaar dien. Jesus het dan selfs gevra ons moet ons vyande liefhê en seën! Hoe sou die wêreld lyk as elke mens sy naaste, en selfs sy vyand, volgens die beginsels van liefde behandel? Dis juis die punt wat vers 10 maak – dis wat God so graag wil doen in hierdie wêreld. Mense rig skeidsmure op en maak oorlog. God verenig mense, en maak hulle deel van sy koninkryk, sy familie. Dis waarmee God nou besig is in hierdie wêreld. Is dit ook waarmee jy vandag besig is?
Gebed: Dankie Here Jesus dat U 'n wonderlike Koning is. Waar U heers, is daar vrede en harmonie. U maak gebroke mense weer heel, U herstel stukkende verhoudings. Laat U koninkryk kom! Amen