God se geheim word nou bekend… - 11 Julie 2017
Ewald Schmidt
"Hy het kragtens sy besluit en voorneme die geheimenis van sy wil aan ons bekend gemaak en dit deur Christus tot uitvoering gebring op die tyd wat Hy daarvoor bepaal het." Efesiërs 1:9-10a
'n Geheimenis is iets belangrik wat jy nog nie weet nie. Paulus skryf aan 'n eerste geslag groepie gelowiges in Efese. Sommiges van hulle het voorheen probeer om deur hulle rituele en offerhandes die Griekse gode se hulp te kry, maar nie tevredenheid gevind nie. Ander was Jode wat deur hulle wetsonderhouding, en nakoming van al die Fariseërs se interpretasies van die wet, vrede met God probeer vind het. Albei hierdie groepe het steeds ervaar dat daar iets in hulle lewe kortkom. Daardie groot geheimenis – die enkele sleutel tot die ware lewe, het hulle gevind toe hulle Jesus as Here leer ken het.
Die groot geheim wat ons in die lewe ontdek, is dat God vir ons lief is. Dis nie maar toevallig dat ons sy kinders is nie. Die Here het in ons belang gestel nog voordat ons van Hom geweet het. Op verskillende maniere het die Here die groot geheimenis met ons gedeel. Sommiges het grootgeword met ouers wat die Here liefhet, en hulle van kleins af van sy liefde geleer het. Ander het eers ander paaie in die lewe gestap. Op 'n dag het hulle 'n ontmoeting met Jesus gehad, dalk soos Paulus op die pad na Damaskus toe. Deur die getuienis van vriende, die omgee van 'n vreemdeling, of 'n stukkie van God se Woord het die geheim bekend geword: God leef! Hy sien my raak! Hy wil so graag ook my Vader wees, wat vir my seën en sorg.
Dit is die groot geheim wat mense se lewens verander: Jesus Christus is die Here! Dit is 'n blye dag wanneer ons dit besef as ons sy roepstem hoor. Jesus sê steeds vandag vir mense: Volg My! Kom stap jou lewenspad saam met My, en Ek sal jou lewe in oorvloed gee …
Gebed: Dankie Here, dat ek ook u geheimenis leer ken het. Dankie dat U my Vader wil wees, en my wil lei op my lewenspad. Gee my asseblief die krag en die wysheid van die Heilige Gees om te volg waar U my lei.