Gelowiges word verlos en vergewe deur Jesus! - 10 Julie 2017
Ewald Schmidt
"Deur die bloed van sy Seun is ons verlos en is ons oortredinge vergewe kragtens die ryke genade van God wat Hy in al sy wysheid en insig so oorvloedig aan ons geskenk het." Efesiërs 1:7-8
Die ou kerkvader Augustinus het gesê: "My hart bly onrustig totdat dit in God rus vind." So baie mense getuig van daardie onrustige hart. Diep in my binneste is daar 'n soeke na sin in die lewe. Ons mense is oorspronklik gemaak om God se beeld te wees in hierdie wêreld, en in 'n verhouding met Hom te lewe. Vir baie mense is dit 'n groot vraagstuk: Hoe vind ek vrede met God? 'n Paar mense in die Bybel het gevra: "Wat moet ek doen om gered te word?" (Handelinge 16:30 is een so 'n voorbeeld). Ons probeer dikwels so hard om self reg te kom. Sommiges val terug op ‘n paar wettiese reëls – "ek moet net nie te veel vloek en drink nie. Ek moet darem soms iets goeds probeer doen aan iemand anders". Onbewustelik probeer ons op sulke maniere genoeg punte opbou om darem die groot toets te slaag by die hemelpoorte.
Die evangelie is egter duidelik daaroor dat ons nie onsself kan verlos nie. Dit lê net nie in my eie vermoë om goed genoeg te wees om self my verhouding met God reg te maak nie. Die verkeerde vraag is: Wat moet ek doen? Die Blye Boodskap fokus op wat God vir my gedoen het! Dit is so belangrik om raak te sien dat God met soveel genade na ons kyk. God begeer steeds om in 'n verhouding met ons te lewe. Daarom het Hy alles gedoen wat nodig is om die verhouding te herstel. Jesus Christus het met sy bloed aan die kruis vir al ons oortredinge betaal. Vir ons sou doodstraf die ergste vonnis op 'n aardse misdaad wees. Jesus het in ons plek die ergste straf gedra, om daarmee te betaal vir alles wat ons verkeerd gedoen het. Hoe word ons gered? Nie deur self reg te kom nie, maar deur in Jesus te glo. Vir elkeen wat in Hom glo, is daar verlossing – ons word verlos van die sonde se straf. Daar is vir ons volkome vryspraak, ons skuld is deur Jesus betaal. God het hierdie geskenk van verlossing en vryspraak gratis kom gee vir elkeen wat in Jesus glo. Jy kan dit nie self verdien nie. Maar jy kan dit met dankbaarheid gratis ontvang.
Gebed: Dankie Here Jesus, dat U in my plek aan die kruis gesterf het. Dankie dat U daardeur vir my die ewige lewe verdien het. Dankie Vader vir die oorvloedige genade wat U vir my het! Amen