Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

My Vader se liefde lei tot 'n lewe van lofprysing. - 8 Julie 2017

Ewald Schmidt

“In sy liefde het Hy ons, volgens sy genadige beskikking, toe ook al daarvoor bestem om deur Jesus Christus sy kinders te wees.Daarom moet ons God prys vir sy wonderlike genade wat Hy in die Geliefde vrylik aan ons geskenk het.” Efesiërs 1:5-6

Ons, soos die eerste gelowiges in Efese, mag dalk soms worstel met groot vrae oor die wese van God. As daar ‘n God is, hoe is Hy? Is Hy onpersoonlik en ver verwyderd van planeet Aarde af? Of is Hy betrokke in my lewe, weet Hy van my, sien Hy my raak?

God maak Hom in die Bybel bekend as 'n Vader, wat my lewe beplan het. Vers 4 het gesê dat God, voordat Hy die aarde gemaak het, al aan my gedink het. Die belangrike eienskap van die wese van God wat Paulus onderstreep, is sy liefde. Met daardie liefde het Hy die mens geskape, daardie liefde dring God om in 'n verhouding met mense te wil lewe. Hy wil 'n Vader wees, en Hy reik uit na mense dat ons sy kinders mag wees.

Ons mense is maar geneig om hardkoppig te wees, en ons eie ding te doen. Ons draai ons rug op ons Vader. Ons verdwaal op die lewenspad. Deur God se genade los Hy ons nie net om self reg te kom nie. Hy het sy geliefde Seun gestuur om ons met genade terug te lei na Hom toe. Deur geloof in Jesus word ons God se kinders. Dit is deel van die wonderlike gawes wat die Vader vir ons gee – sy liefde, sy genade, sy Seun wat ons verlos.

Wat moet ons reaksie wees as ons bewus word van die Vader se liefde in ons lewens? Ons antwoord op God se liefde is 'n lewe van geloof. Lofprysing is nie net die lied wat ons soms sing tot eer van die Here nie. Lofprysing is 'n lewe wat getuig dat God my Vader is. Dis 'n lewe vol dankbaarheid waarin ek God se goedheid raaksien.

Gebed: Dankie Vader vir al u liefde in my lewe elke dag! Vorm my en help my dat my lewe 'n loflied tot u eer sal wees. Amen

Previous article: Gelowiges word verlos en vergewe deur Jesus! - 10 Julie 2017 Prev Next article: Die Vader se liefde vir my kom al 'n lang pad - 7 Julie 2017 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.