Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Die Vader se liefde vir my kom al 'n lang pad - 7 Julie 2017

Ewald Schmidt

"So het Hy, nog voordat die wêreld geskep is, ons in Christus uitverkies om heilig en onberispelik voor Hom te wees." Efesiërs 1:4

Verwerping is een van die slegste menslike ervarings. Dit maak seer wanneer ek ervaar dat ek nie inpas in 'n groep nie, of dat ek nie goed genoeg was vir die span nie. Ons kan “uitverkies” ook maklik met vrees verstaan – sê nou net ek is ook nie goed genoeg vir die Here nie? Hoe weet ek nou of ek dit “gemaak” het in God se oë?

In Efese was daar gelowiges uit Griekse, sowel as Joodse agtergrond. Die Grieke moes hulle rug draai op die Griekse gode, veral Diana Artemis. Hierdie kultus was 'n vrugbaarheidsgodsdiens, waar die godin vertrou is vir die verwekking van kinders, vir die voorsiening van reën en die lande wat hul oes lewer.  Die Messiaanse Jode het met blydskap Jesus as die Messias wat hulle verwag het, leer ken. Maar nie alle Jode het in Jesus geglo nie, en die Christene is uit die sinagoge en Joodse gemeenskap verban. Albei hierdie groepe het verwerping en vervolging beleef deur hulle volksgenote.

Ons mag in moeilike tye wonder: Het ek die regte ding gedoen om my lewe aan Jesus toe te vertrou? Sien die Here my raak? Die troos wat Paulus bied, is dat my geloof nie maar net 'n toevallige gebeurtenis op 'n dag was nie. Hy wil gelowiges wat moeilike tye ervaar, bemoedig met die gedagte dat God met hulle besig was, lank voordat hulle van Hom bewus was. Dit bring troos dat God my lewe beplan het. Nog voordat ek kon dink om vir God te kies, het Hy alreeds vir my gekies. Nog voordat Hy die aarde geskape het, het Hy my lewe beplan. En die plan was dit: dat ek heilig en onberispelik voor Hom moet wees. Om heilig te wees beteken om aan God te behoort. En onberispelikheid sou ek nie self regkry nie, daarvoor sou die Here Jesus sorg deur aan my 'n nuwe lewe te gee. Deur die vergifnis wat God vir my gegee het, en deur die krag van die Heilige Gees wat in my werk, is God besig om my heilig en onberispelik voor Hom te maak.

Gebed: Dankie Vader, dat U my ken. My lewe was nooit vir U 'n verrassing nie. Dankie dat U alles gedoen het wat nodig is, sodat ek u kind mag wees. Help my asseblief om voluit vir U te lewe! Amen

Previous article: My Vader se liefde lei tot 'n lewe van lofprysing. - 8 Julie 2017 Prev Next article: God ons Vader verdien ons lof - 6 Julie 2017 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.