Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

God ons Vader verdien ons lof - 6 Julie 2017

Ewald Schmidt

“Aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe! Hy het ons in Christus geseën met al die seëninge van die Gees wat daar in die hemel is.” Efesiërs 1:3

Gelowiges wonder soms waar in die Bybel staan dat God Drie-enig is. In hierdie pragtige lied van vers 3-14 word God as Vader, Seun en Heilige Gees besing vir die unieke eienskappe wat elke Persoon van God aan ons openbaar. Die Skepper van hemel en aarde kom stel Homself bekend aan ons as 'n Vader. Hy is nie maar net 'n onpersoonlike krag êrens in die groot heelal nie. Paulus besing Hom as die Vader van ons Here Jesus. Ons Here Jesus leer ons in Matteus 6:9 dat God ook ons Vader is. Hy is 'n goeie Vader, wat weet wat ons nodig het selfs voordat ons dit van Hom vra, het Jesus in Matteus 6:8 vir ons geleer.

“Vader” is 'n verhoudingswoord. Van die begin van die Bybel af leer ons dat God die hart van 'n Vader het, wat begeer om in verhouding met mense te leef. Hy is 'n goeie Vader, wat sy kinders so graag wil seën. Die mooiste voorbeeld van die Vaderhart van God is dat Hy sy Seun met ons gedeel het. Ons lewe kry waarlik sin wanneer ons in verhouding met Jesus lewe. Paulus beskryf dit dwarsdeur die Efesiërsbrief dat gelowiges “in Christus” is. Wanneer ons in verhouding met Jesus leef, seën die Vader ons met al die seëninge van die Gees wat daar in die hemel is.

Kyk hoe duidelik is Paulus daaroor: die Gees van God hou niks terug nie. Al die seëninge is beskikbaar vir God se kinders. God gee alles wat ons nodig het om Hom te kan ken. Hy voorsien dit wat ons nodig het om met dankbaarheid te lewe. Hierdie seëninge sluit in die lewe self, gesondheid, lewenskrag, vrede, blydskap, liefde en hoop. God die Vader het vir ons lewe gegee, en Hy voorsien in ons behoeftes. Daarom herinner Paulus ons – Hy verdien al ons lof. Rick Warren het gesê ons lof is nie net 'n lied wat ons sing nie, dis 'n lewenswyse wat aan God die eer gee vir al sy daaglikse goedheid.

Gebed: Dankie Here, dat U ons Vader is! Baie dankie vir al u goedheid in my lewe elke dag. Dankie dat U in alles voorsien wat ek nodig het om te lewe, en om U te dien. U alleen is waardig om al my lof, eer en aanbidding te ontvang! Amen.

Previous article: Die Vader se liefde vir my kom al 'n lang pad - 7 Julie 2017 Prev Next article: 'n Groet wat 'n verskil maak in my lewe! - 5 Julie 2017 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.