Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

'n Groet wat 'n verskil maak in my lewe! - 5 Julie 2017

Ewald Schmidt

“Genade en vrede vir julle van God ons Vader, en die Here Jesus Christus!” Efesiërs 1:2 (1983-vertaling)

Een van die wonderlike gawes wat die Here vir die mens gegee het, is die vermoë om woorde te kan gebruik. Elke woord het betekenis. Maar sommige woorde oortref ander by verre in die diepte en waarde wat dit vir ons inhou.

Paulus skryf vir die mense in Efese wat in Jesus Christus as Here glo. Hy gebruik twee van die mees kosbare woorde om hulle te groet. Die eerste groetwoord is “Genade”. Genade is so 'n skaars verskynsel in die harde wêreld waarin ons leef. In hierdie wêreld ervaar ons dat 'n mens kry wat jy verdien – in 'n positiewe en negatiewe sin. Ons werk hard vir dit wat ons besit. Wanneer ons verkeerd doen, word ons hard gestraf deur die reg. My optrede het gevolge. Maar genade tree buite die terrein van my verdienste in. Genade is om iets positiefs te ontvang wat ek nie verdien het nie. Die genade wat van God af kom, kom bied aan my 'n nuwe lewe, en 'n toekoms vol hoop. Paulus is 'n voorbeeld van God se genade. Hy het eens vir Jesus gehaat met 'n passie. Hy het sy bes probeer om die boodskap van Jesus uit te roei deur die vroeë kerk wreed te vervolg. Maar die Here het ingegryp en hy het Jesus persoonlik leer ken op die pad na Damaskus. God se genade het haat in liefde verander in Paulus se lewe.

Die tweede kosbare groetwoord wat Paulus gebruik is “Vrede”. Die vrede wat ons Here Jesus gee het verskillende dimensies. Jesus kom bied vrede met God, vrede met my medemens, vrede in myself. Paulus noem dit in Filippense 4:7 “Die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan…”

Die Here het hierdie woorde oor twee duisend jaar bewaar, dat ons genade en vrede kan ontvang, liefdevol gegee deur God wat ons Vader wil wees. En dit is moontlik omdat Jesus die Christus is, ons lewende Here.

Gebed: Here, dankie dat u genade en u vrede steeds vandag lewens kom aanraak en verander. Dankie vir u woorde, wat lewe bring vir my. Amen

Previous article: God ons Vader verdien ons lof - 6 Julie 2017 Prev Next article: Kosbare Woorde wat ver kom - 3 Julie 2017 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.